Stars val vas

Deur Wyndham Ewerts
DIE verdedigende SWD Twintig20-krieketkampioenspan Union Stars van Oudtshoorn is Saterdag op die Bridgton Sportgronde in die kwarteindstryd van vanjaar se reeks deur Mosselbaai uit die reeks geboender. Hulle het die wedstryd met 26 lopies gewen.

Mosselbaai, wat eerste gekolf het, het 152lopies op die telbord geplaas. Hierna het hulle vir Union Stars in die 17de boulbeurt vir 126 lopies uitgehaal.

• Op die Rooirivierrift-krieketveld op George het George ’n einde gebring aan die sprokiesverhaal van Dysselsdorp se krieketspan deur hulle maklik met 87 lopies te klop.

Dysselsdorp was die vorige week die enigste promosieligaspan wat na die kwarteindronde van die Twintig20-reeks deurgedring het.

In Saterdag se wedstryd het George 148 lopies vir 6 paaltjies in hul toegelate 20 boulbeurte behaal. Daarna het George die Dysselsdorp-kolwers vir slegs 61 lopies uitgeknikker.

• Harlequins Forces speel Saterdag vanaf 10:00 op die Rec in die halfeindronde van die reeks teen Rosemoor Ramblers. In die ander halfeindstryd speel George van 12:00 op hul tuisveld teen NMU.