Die huis waar die dagga gevind is. Foto verskaf
TWEE Tanzaniërs, onderskeidelik 31 en 36 jaar oud, is Dinsdag deur die Ladismith Polisie in hegtenis geneem vir handeldryf in dagga.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het polisiebeamptes inligting opgevolg en ’n informele nedersetting in Van Wyksdorp deursoek. Een sak dagga is omstreeks 15:45 op die dak van die woning van die verdagtes gevind.
Nog ’n sak met dagga is naby ’n hok waarin twee Amerikaanse veghonde was, gevind. Dié dagga was onder ’n klomp draad weggesteek.
Volgens Cederas is beslag gelê op 23 sakke dagga wat in tydskrifpapier toegedraai was. Die totale gewig was 2,440 kg. Die mans sal binnekort in die Ladismith Landdroshof verskyn.