Deur Ben du Preez
UNION STARS, Oudtshoorn se spog-krieketspan, verdedig Saterdag, 18 Maart, sy kampioenskapstitel in die SWD Sedgers Premierliga teen Pirates United op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec).
Pirates het Saterdag na die eindronde van die liga deurgedring deur op sy tuisveld op Knysna vir Western Hope, ook van Oudtshoorn, in ’n opwindende wedstryd uit te skakel. Dié twee spanne was onderskeidelik tweede en derde in die Premierliga.
Western Hope het Saterdag die loot gewen en eerste gekolf. Hulle kon slegs 148 lopies van 45,4 boulbeurte aanteken. Murray Commins 35, Douglas Baartman 31 en Cresendo Maksella 25 was Western Hope se beste kolwers. Sam Mvimbi was met 3/10 Pirates se beste bouler.
Douglas Baartman (5/29) en Lesley Maksella (2/30) het Pirates se kolfwers aanvanklik opdraand gegee met agt paaltjies plat en slegs 95 lopies op die telbord. Pirates se Albertus Jaco de Lange (51) en Bronwill Goeda (25) het egter vasgeskop en ’n vennootskap van 46 lopies behaal om aan Pirates die oorwinning met 1 paaltjie in die 48ste boulbeurt te besorg.