DIE Attakwas Extreme Bergfietsuitdaagwedren tussen Oudtshoorn en Groot Brakrivier, wat as Suid-Afrika se voorste eendagbergfietswedren beskou word, het ’n stewige hupstoot gekry met borgskappe van Momentum Health en Biogen.
Volgende jaar se Attakwas, wat in Januarie 2018 vir die 12de keer gaan plaasvind, sal bekend staan as die Momentum Health Attakwas Extreme, aangebied deur Biogen.
Die fietsren het ook onlangs internasionale UCI-status ontvang wat ’n aansporing is vir die wêreld se voorste bergfietsryers om deel te neem aangesien hulle punte kry vir die internasionale ranglys.
Die borgskappe sal ook groter prysgeld en wyer mediadekking meebring.
Sedert die eerste Attakwas in 2006 het dit as’t ware die Comrades-weergawe van bergfietsry geword. Die Attakwas is 121 km lank en sluit klimwerk van sowat 3000 m insluit. Dit bied ’n ware toets vir deelnemers se uithou- en vasbytvermoë, fiksheid, krag en tegniek.
Die mansrekord van 04:47:56 staan agter die naam van die Sweedse jaer Urs Huber wat die rekord in 2014 opgestel het. Annika Langvad, Denemarke se veelmalige wêreldkampioen, het die vrouerekord van 05:25:55 vanjaar opgestel met haar eerste deelname aan die Attakwas in Januarie.
Momentum Health en Biogen het onlangs ook die hoofborge geword van die Tankwa Trek en die Cape Pioneer Trek. Hulle borg nou al drie Dryland Event Management se gegradeerde bergfietsrenne met UCI se internasionale fietsrystatus.
Carel Bosman, Momentum Health se hoof van borgskappe, en Brandon Fairweather, Biogen se bemarkingsbestuurder, het albei hul ingenomenheid uitgespreek om nou ook betrokke te wees by die Attakwas, wat met ’n gesonde leefstyl geassosieer word.