Stars boaan punteleer

UNION STARS van Oudtshoorn, wat die naweek ’n oortuigende oorwinning oor Harlequins Magte behaal het, is die voorlopers op die punteleer van die SWD Premier Krieketliga. Hulle het 20 punte ná vyf wedstryde.
Harlequins, wat eerste gekolf het, is vir slegs 69 lopies almal uitgeboender.
Daarna het Union Stars die wenteiken in die 14de boulbeurt verby gesteek met nog agt paaltjies staande vir ’n bonuspuntoorwinning.
Reagan Booysen het uitstekend geboul deur vyf van Harlequins se paaltjies te laat kantel vir slegs 25 lopies. Dillan Nuys het twee paaltjies vir 10 lopies laat kantel en Romano John twee vir 11.
Union Stars se topkolwers was Mauritz Pretorius (27) en Geoffrey Perel (24 nie uit nie).
• George Krieketklub lê tans tweede op die Premierliga-punteleer met 19 punte ná ses wedstryde.