Stars bo aan punteleer

Obus Pienaar

Obus Pienaar

Deur Wyndham Ewerts
DIE eerste krieketspan van Union Stars het Saterdag op Loeriepark in Knysna vir Pirates oortuigend met 90 lopies in ’n SWD Premierligawedstryd geklop.

Met dié oorwinning het Union Stars die boonste posisie aan die liga se punteleer ingeneem.
Unions Stars, wat eerste gekolf het, se laaste paaltjie het in die 48ste boulbeurt geval met 198 lopies op die telbord. Obus Pienaar en Geoffrey Perel was met onderskeidelik 79 en 44 lopies Union Stars se beste kol­wers.

In Pirates se kolfbeurt het Union Stars se Irvin Campher (2/32) , Renaldo van Rooyen (2/51) en Byron Jantjies (2/61) goed geboul en die grootste bydrae gelewer om Pirates tot slegs 108 lopies te beperk met almal uit in die 36ste boulbeurt.

Union Stars se volgende wedstryd is Saterdag, 25 Novovember, teen Pio­neers op Plettenbergbaai.

• In nog ’n SWD Premierliga-wedstryd het Ramblers vir Western Hope met 7 paaltjies geklop.

Western Hope se kolwers kon nie hond haar afmaak teen Ramblers se boulers nie, en is in 27 boulbeurte vir slegs 92 lopies uitgeboender.

Ashlin de Villiers 6/18 het veral verwoesting gesaai met sy bybreekballe.
Ramblers het hierna die wenlopies in die 16ste boulbeurt aangeteken.