Oudtshoorn het die afgelope naweek geskiedenis gemaak toe die jaarlikse Eden Skopbokskampioenskappe vir die heel eerste keer as deel van die Oudtshoorn Sportfees in die dorp aangebied is.
Die kampioenskappe het nie net topgehalte skopboksaksie opgelewer nie, maar ook bewys dat Oudtshoorn gereed is om groot sportgeleenthede met sukses aan te bied.
Altesaam 135 deelnemers van agt skopboksklubs regoor die Tuinroete het hul vaardighede in die kryt ten toon gestel.
Van die eerste geveg tot die laaste eindfluitjie het die aksie toeskouers op die punte van hul stoele gehou. Na raming het tussen 350 en 400 ondersteuners die geleentheid bygewoon om die atlete luidkeels aan te moedig.
Die Eden Skopbokskampioenskappe word tradisioneel in George aangebied, maar vanjaar het Eden Skopboks, in samewerking met ’n plaaslike klub en die Oudtshoorn Sportfees, besluit om die byeenkoms na Oudtshoorn te bring.
Die skuif is met groot entoesiasme ontvang en het ’n waardevolle ekonomiese en sportinspuiting vir die dorp gebied. Vir baie deelnemers was daar meer as net medaljes op die spel.
Die kampioenskappe dien as die amptelike keuringsgeleentheid vir die Eden-span wat die streek op 10 Oktober by die Wes-Kaap Skopbokskampioenskappe in Kaapstad sal verteenwoordig.
Die kompetisie was dus uiters fel, met elke deelnemer wat alles gegee het om ’n plek in die provinsiale span te verseker.
Die plaaslike klub het besonder goed gevaar en was een van die uitblinkers van die dag. Met 46 deelnemers het die klub ’n indrukwekkende medalje-oes ingepalm, naamlik 30 goue medaljes, 22 silwer medaljes en 20 bronsmedaljes.
Hierdie uitslae getuig van deeglike voorbereiding, toegewyde afrigting en die vasberadenheid van die atlete.
Die organiseerders het hul waardering uitgespreek teenoor almal wat die dag se sukses moontlik gemaak het. Die Eden Skopbokskampioenskappe is aangebied danksy die ondersteuning van die Oudtshoorn Sportfees, die Departement van Kultuursake en Sport (DCAS) en Eden Sportraad Legacy Funding.
Met die groot opkoms, uitstekende organisasie en hoë standaard van kompetisie het vanjaar se kampioenskappe ’n nuwe hoofstuk vir skopboks in die Klein Karoo ingelui. Indien die sukses van hierdie byeenkoms ’n aanduiding is, kan Oudtshoorn in die toekoms nog vele groot skopboks- en sportgeleenthede verwelkom. (GRANWILLE GOLIATH)
Skopbokskampioenskappe bring aksie en groot opgewondenheid na Oudtshoorn
Foto verskaf.