OUDTSHOORN speel vanjaar gasheer vir twee van die grootste tweekampbyeenkomste van die jaar: die Highgate interprovinsiale byeenkoms op 1 Februarie en die Suid-Afrikaanse kampioenskap op 20 en 21 Maart.
Dit is die derde keer die afgelope twee dekades dat dié kampioenskap op Oudtshoorn plaasvind.
Die byeenkomste word aangebied deur die Eden Tweekampvereniging, wat verlede jaar aangewys is as die Eden Sportraad se Sportfederasie van die Jaar.
Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, is die Eden-span wat aan die interprovinsiale byeenkoms gaan deelneem Dinsdag (21 Januarie) aangewys.
Die seisoen, wat in September 2019 afgeskop het, loop ten einde met die SA’s. Om in aanmerking te kom vir die SA’s, moet ’n atleet aan die Eden-kampioenskap en drie ligabyeenkomste gedurende die seisoen deelneem.
“Dit is die derde keer dat die SA’s deur Eden (voorheen SWD) aangebied word. SA Tweekamp is sekerlik een van die min sportsoorte in die land wat op 47 ononderbroke SA Kampioenskappe staan – voorwaar ’n suksverhaal om te hoor,” sê Van der Walt.
Om dié ryk geskiedenis te bewaar, word ’n mini-museum tydens die SA’s op Highgate geopen, danksy die ondersteuning van Johan Keller, eienaar van Highgate.
Die Highgate Volstruisvertoonplaas is die amptelike borg van Eden Tweekamp.
Die volgende tweekampbyeenkoms is die Wimpy Eden “Doubles” op 28 Januarie, gevolg deur die interprovinsiale toernooi, drie ligabyeenkomste en die Eden Kampioenskap op 3 Maart.
Vir meer inligting, kontak Van der Walt by 082 773 4901.