DIE Oudtshoorn-boorling Andrew Steyn Kuhn (22) het Saterdag na Rusland vertrek, waar hy vir die Russiese rugbyklub Slava gaan uitdraf.
Kuhn is in Oudtshoorn gebore, en het reeds as o.12-speler by Laerskool Wesbank op die rugbyveld uitgeblink. Hy het die o.12- en die volgende jaar ook die o.13-provinsiale span gehaal.
By die Hoërskool Outeniqa het hy SWD as o.16-speler verteenwoordig en dieselfde jaar vir die SA o.16-Elite-span uitgedraf. In sy matriekjaar het die afrigters besef dié linkshandige loskopstut kan net so goed in die vaskop-posisie diens doen.
Ná skool het hy by die Vrystaat Cheetahs aangesluit en het hy vir die o.19- en o. 20-span in die Super Sport Challenge gespeel voordat hy vir die Curriebekerspan gekies is. Hy het ook aan proewe deelgeneem vir die o. 20 Jong Bokkies-span in Stellenbosch.
In dié tyd het hy ’n aanbod gekry om klubrugby in Rusland te gaan speel.
Hy het besluit om die geleentheid aan te gryp en het Saterdag saam met sy afrigter van sy laerskooljare, André Tredoux, Rusland toe gevlieg.
Volgens sy pa, ook Andrew Kuhn, het hulle Sondag in Moskou aangekom.
Sou Kuhn Russiese burgerskap aanvaar, kan hy ook eendag vir dié land se nasionale span uitdraf.
Kuhn se pa het Die Hoorn meegedeel dat sy seun sê dat sy eerste indrukke van Rusland goed was – die land is baie skoon.
“Hy het gesê dat hy uitsien om elke dag met die moltrein na sy oefening te reis. Hy het ook vir my vertel dat die meisies in Rusland baie mooi is!” (Deur Angelique Erasmus)