Die reënweer het vanjaar se Attakwas Uitdaag selfs meer uitdagend as gewoonlik gemaak.
Foto’s: ZC Marketing Consulting
DIE afgelope naweek se Attakwas Uitdaag was ’n nat en modderige affêre met ongekende reënweer wat dié wedren selfs meer uitdagend vir die meer as 700 deelnemers gemaak het.
Eerste oor die wenstreep was ’n modderbesmeerde maar ekstatiese Matt Beers van Knysna, wat die vorige rekord met slegs 12 minute misgeloop het in ’n tyd van 4 ure, 59 minute en 25 sekondes.
Die moeilike Attakwas Uitdaag staan ook be-kend as die “Hel van die Suide”. Dit is een van die moeilikste fietswedrenne in die land met ’n vertikale klim van 2 900 meter.
Beers was die enigste deelnemer wat die Attakwas onder vyf ure kon voltooi.
Dit was die eerste keer in vyf jaar dat Beers die wedren aangedurf het en volgens hom was dié breek dalk goed: hy het vergeet hoe moeilik dit is.
Beers het die laaste dertig kilometer alleen gery nadat hy weggebreek het van ’n groot groep sterk ryers.
“Ek het geweet Philip (Buys), Matthys (Beukes) en Gert (Heyns) sal probeer om my in te haal, dus het ek nie ’n keuse gehad nie. Ek kon nie vir ’n oomblik ontspan nie.”
Hoewel dit volgens hom by tye moeilik gegaan het so op sy eie, kon hy egter bly druk tot die einde toe.
Beers sê hy’s tevrede met sy peil so vroeg in die seisoen.
“Dis ’n goeie teken.”
Matthys Beukes, die verdedigende kampioen, het in die laaste vyf kilometer vir Wessel Botha (Beers se NAD Pro MTB-spanmaat) verbygesteek en in die tweede plek geëindig in ’n tyd van 5:06:26.
Die Sweedse ryer Jennie Stenerhag was die eerste vroulike deelnemer tuis, in ’n tyd van 5 ure, 54 minute en 23 sekondes.
Sy het net-net vir Robyn de Groot geklop, wat slegs een sekonde ná haar oor die eindstreep gejaag het.
Stenerhag het ná die tyd gesê dit was ’n soete oorwinning aangesien sy reeds sewe keer vantevore probeer het om dié wedren te wen.
Die Hongaarse ryer Barbara Benko, wat aan haar eerste Attakwas deelgeneem het, het derde geëindig.
Jarlow Mongo en Patrick Liwonde oor wie Die Hoorn verlede week geskryf het (“Werkers reg vir Attakwas!”) het albei die wedren voltooi.
Liwonde het twee ure en 32 minute ná die wenner die eindpunt bereik in die 242ste plek, terwyl Mongo sy eerste Attakwas voltooi het in die 284ste posisie.
