DIE Suid-Afrikaanse fietsryer Daryl Impey wat die pas afgelope 2018 Tour Down Under in Australië gewen het, is onder die deelnemers aan die SA Padfiets- en Tydtoetskampioenskap wat Dinsdag (6 Februarie) op Oudtshoorn begin.
Impey het al ’n skof van die Tour De France, be-kendste padfietsren ter wêreld, gewen en tydens 2013 se Tour twee skofte lank die geeltrui as algehele voorloper gedra.
Impey gaan sy SA Tydtoets-titel hier op Oudts-hoorn verdedig en ook deelneem aan die padfiets-ren in die afdeling vir Elite-mans.
Team Dimension Data for Qhubeka gaan ook hul titels van verlede jaar hier op Oudtshoorn kom verdedig. Onder die span se lede is die belowende jong Louis Visser van Oudtshoorn.
• Die SA kampioenskap skop reeds Dinsdag af met individuele tydtoetse wat tot die volgende dag sal duur. Die padwedrenne kom van Donderdag tot Sondag (8 tot 11 Februarie) aan die beurt.
Die wegspring en eindstreep van die wedrenne is in Voortrekkerweg langs die Rec (Oudtshoorn Sportgronde) en die wedrenne gaan daagliks van 08:00 tot 17:00 plaasvind.
Die hoogtepunt van die week se renne is die Saterdag wanner die Elite-ryers, mans en vroue, ry.
• Eden Fietsry het in ’n persverklaring die publiek daarop bedag gemaak dat daar tydens die SA’s baie fietsryers op Oudtshoorn gaan wees.
Voortrekkerweg vanaf Langenhovenweg tot op die Calitzdorppad gaan gebruik word. Die uitgaande twee bane gaan dus vir verkeer gesluit wees gedurende die dag en die twee inkomende eenrigtingbane gaan verander word in tweerigting- verkeersbane.
Dieselfde geld vir Langenhovenweg vanaf Bo-komotreinbrug tot by Voortrekkerweg. Die twee inkomende bane gaan deur die fietsryers gebruik word en die twee uitgaande bane gaan as tweerig-tingbane benut word. Rademeyer- en Vredestraat sal ook geraak word. Motorryers kan opeenho-pings verwag en word gevra om alternatiewe roe-tes te gebruik indien moontlik.
Toeskouers kan parkeer in Vredestraat of op die Hoërskool Oudtshoorn se sportgronde wat vanaf Vredestraat toeganklik sal wees.
Die roetes vir die eerste drie dae is vanaf die wegspring langs die Rec na die Mosselbaaiafdraai na Safari Volsruisplaas en dan terug dorp toe via Rademeyerstraat en Langenhovenweg.
Vanaf Vrydag sal die ryers uit die dorp na Volmoed ry tot by die Mosselbaaikruising en ook op die Highgate-pad.
Aangesien die verkeer beïnvloed gaan word op die betrokke paaie vra Eden Fietsry motorryers en ander padgebruikers se geduld.
• Daar is reeds die afgelope twee maande ’n toename in padfietsryers wat Oudtshoorn besoek om op die roetes te oefen.
Die inskrywing het nog nie gesluit nie, maar die aanduiding is dat dit ’n goeie kampioenskap gaan wees. SA kampioene sal in die onderskeie ouderdomsgroepe gekroon word.