Bennet blink uit in gholf

Konst Bennett de Wee.       (Foto verskaf)

Konst Bennett de Wee. (Foto verskaf)

Deur Ilze-Mari Gründling
’N BEKENDE konstabel van Ladismith, Bennet de Wee, is vir die tweede jaar agtereenvolgens in die Wes-Kaapse gholfspan opgeneem.

De Wee gaan van Sondag (4 Februarie) tot volgende Saterdag aan die SAPD Nasionale toernooi in Katu, Noord-Kaap, deelneem. Hy was verlede jaar met sy netto-telling tweede in dieselfde toernooi wat toe in Port Elizabeth plaasgevind het.

Hy is nou al vir drie jaar agtereenvolgens Ladismith se klubkampioen.

De Wee vertel hy was op hoërskool ’n baljoggie.

“Toe ek by die SAPD aansluit, was ons nie toegelaat om enige kontaksport soos rugby te speel nie. Ek het toe gholf begin speel.

Dit is ’n fantastiese spel. Ek geniet dit baie en is spyt dat ek dit nie vroeër begin speel het nie.”

Tydens die toernooi sal hy eers die provinsie verteenwoordig en daarna individueel deelneem.

“Ek is baie positief oor die toernooi en sien baie daarna uit,” sê hy.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, was De Wee bekend as ’n kranige vasbytstapper voordat die gholfgogga hom gebyt het. “Hy was derde in die bekende Big Walk waartydens hy 50 en 85 km gestap het. Sukses is nie vreemd vir hom nie!” sê Cederas.