SA Meestersatletiek begin!

Toy Ungerer (links) en Ansie Hennop verwag dat verskeie SA rekords by die SA Meesterskampioenskap in die slag sal bly. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE SA Meestersatletiekkampioenskap begin vandag met registrasie in die De Jager Sportstadion op Oudts-hoorn. Dit duur tot Saterdag. Meer as 500 atlete, beamptes en toeskouers van regoor die land word verwag.

Ansie Hennop, president van SA Meestersatletiek (SAMA) en sekretaresse van Afrika Meestersatletiek, wat Maandag op Oudtshoorn aan­gekom het, sê al die Afrika-lande is na die kampioenskap genooi.

Hennop sê op grond van die uitstekende aanbieding, goeie geriewe en die behulpsaamheid van die tegniese personeel toe die kampioenskap in 2013 ook op Oudts­hoorn aangebied is, het haar bestuur nie gehuiwer om die Meesters weer aan Oudtshoorn toe te ken nie.

Volgens Hennop is die meeste meesters­atlete pensioentrekkers en speel finansiële oorwegings ’n groot rol in hul besluit om deel te neem of nie. Die stedelinge ver­kies die plattelandse dorpe en Oudtshoorn bied goeie akkommo­dasie en ’n wye keuse van verblyf.

• Toy Ungerer, mees­teratleet van Oudts­hoorn, sê Hennop se ervaring en kundigheid was vir haar van onskatbare waarde toe die Meestersbyeenkoms in 2013 die eerste keer hier aangebied is. “Sonder haar sou ons nie die mas opgekom het nie.”

Ungerer, ’n wêreldrekordhouer, sal in aksie wees in die 400 m, 200 m en 100 m.

Die byeenkoms word more (Vry­dag) seremonieel om 12:45 in die stadion geopen.

• Hennop is ’n generaal in die SA Weermag en woon in Pretoria.