
Mitchell van Buuren ontvang sy trofee as Speler van die Wedstryd van Gerrie Pienaar, die wedstrydskeidsregter.
DIE eerste van drie internasionale o.19-eendagwedstryde tussen Suid-Afrika en Sri Lanka wat deur SWD Krieket op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) aangebied is, is oortuigend deur Suid-Afrika met 7 paaltjies gewen.
Die tweede wedstryd vind môre ook op die Rec plaas en die derde een Sondag. Toegang vir die publiek is gratis.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoofbestuurder van SWD Krieket, het die publiek van Oudtshoorn en die Klein Karoo genooi om gerus te kom krieket kyk. Die reeks belowe om nog opwindende krieket op te lewer.
In gister se wedstryd het Sri Lanka eerste gekolf en 214 lopies op die telbord gehad toe hul laaste paaltjie in die 49ste boulbeurt gekantel het.
Suid-Afrika se boulers het ’n gesamentlike poging aangewend. Michael Cohen het twee paaltjies laat kantel vir 37 lopies, Ruan de Swardt (2/43) en Jade de Klerk (1/25).
Suid-Afrika het daarna die vereiste teiken met nog twee boulbeurte oor bereik. Suid-Afrika se uitblinkers was Reinard van Tonder en Mitchell van Buuren wat albei 92 lopies geslaan het, onderskeidelik van 131 en 114 balle. Hul het ’n onoorwonne vennootskap van 169 lopies behaal.
Van Buuren is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Krishan Sanjula was Sri Lanka se beste kolwer met 53 lopies van 79 balle, en Praveen Jayawickrama die beste bouler met 2 paaltjies vir 54 lopies.