
Die SA Jeugpadfietskampioenskap het verlede naweek, 27-29 September, in Oudtshoorn plaasgevind.
Eden Fietsry het weereens ’n uiters suksesvolle kampioenskap aangebied, wat Oudtshoorn reeds as een van die gewildste areas vir hierdie kampioenskap gevestig het. Die kampioenskappe het bestaan uit ’n individuele tydtoets, ’n padresies en ’n kriteriumtoets. Die kriteriumtoets het Vrydag by die VGK in Bridgton plaasgevind vanwaar ’n roete deur strate gevolg is sodat die gemeenskap ook as toeskouers die sport kon geniet.
Die individuele tydtoetse en die padresies het in Schoemanshoek plaasgevind met die eindstreep by Cango’s Rest.
Quondisa Ngwenya, president van SA Fietsry, het sy dank uitgespreek teenoor Eden Fietsry vir die moeite en deeglikheid waarop hierdie gesogte geleentheid aangebied is. “Oudtshoorn is bekend vir sy vriendelikheid en het ’n trotse geskiedenis van suksesvolle aanbieding van talle nasionale elite- en jeugfietsry-kampioenskappe.”
Dit was die 8ste SA kampioenskap wat deur Eden Fietsry in Oudtshoorn aangebied is. Op die fietsrykalender is dit een van die gewildste gebeurtenisse onder die deelnemers. Volgens Corné Bence, president van die Wes-Kaapse Fietsry Assosiasie, bring hierdie geleentheid sowat 1 400 mense oor die naweek na Oudtshoorn. “Ons as Eden Fietsry is baie trots om weer ’n uiters suksesvolle kampioenskap te kon aanbied.
Die verkeerspersoneel het hulle ongelooflik goed van hul taak gekwyt om die verkeer te reguleer en seker te maak die fietsryers was veilig,” het Bence aan Die Hoorn gesê.
Hy bedank die volgende rolspelers vir hulle bydrae tot die sukses van die kampioenskappe: Die munisipaliteit, departement van sport en kultuur, Kango-grotte, Wilgewandel, Nasionale Loteryefonds, Faye, Kleinplaas, TT Vervoer, Route 62 en Just Property.
Die Wes-Kaapse fietsryspan is met 403 punte vir die derde agtereenvolgende jaar aangewys as die beste provinsiale span by die SA kampioenskappe. Gauteng was in die tweede plek met 203 punte en die Oos-Kaap het derde geëindig met 158 punte. (Lindi Brill)

Bo: Die o.17-seuns 52 km-padwedren se wenners: Joshua Paul (middel) van KZN was 1ste met ’n tyd van 01:32:14, 2de plek was Deon Woolley (links) van die Wes-Kaap met 01:32:15 en 3de was Daniel le Roux (regs) met ’n tyd van 01:32:19 ook van die Wes-Kaap, saam met Leon Champer, Oudtshoorn Raadslid. Foto: Verskaf