Ruiters blink uit in perde-uithourit

Lizelette le Roux op haar perd Zaina (links) en Lizl Kuyler op Woema, kom saam-saam in na die eerste been van die 80 km afstand. Foto verskaf.

Die Blakeridge Perde-uithourit, wat Saterdag 23 Mei tussen Graaff-Reinet en Pearston plaasgevind het, het deelnemers op die proef gestel met nat, modderige toestande, maar twee ruiters van die Klein Karoo en lede van die Outeniqua Uithouritklub het goed presteer.

Lizelette Le Roux en haar perd Al Kimiya Zaina het 1ste plek in die 80 km liggewig-afdeling te behaal, maar ook as algehele wenner oor die 80 km vir die dag.

Die duo se prestasie is verder bekroon toe Zaina ook aangewys is as die perd met die beste kondisione-ring van die dag.
Nog ’n ruiter, Lizl Kuyler saam met haar perd Copper Cloud Woema, het tweede oor die wenstreep geëindig en ook die tweede plek in die liggewig-afdeling behaal.

Volgens die twee ruiters het die baan uitdagende, nat en modderige toestande gebied, maar Kuyler het beklemtoon dat die natuurskoon langs die roete ’n hoogtepunt was. Sy het ook die gasvryheid van die orga-niseerders as uitstekend beskryf.

Die Blakeridge-uithourit het sowat 26 uithouruiters en hul perde gelok, en dit is weereens bewyse dat deursettingsvermoë, voorbereiding en samewerking tussen ruiter en perd die sleutel tot sukses is. (ANGELIQUE ERASMUS)