In Februarie vanjaar het Oudtshoorn uiteindelik sy eie padelbane gekry en min het ek geweet hoe vinnig dié sport my lewe sou verryk.
Ek en my vriendin het voor dit so dan en wan bietjie tennis gespeel — of nou ja, eerder net balle na mekaar geslaan as die mik in was. Ons het vir mekaar gesê: “Nee wat, ons gaan nie dié padel-ding doen nie.” Toe stel sy eendag voor ons speel net één “game”.
Dit was die begin van die einde.
Aan die begin het ek geëet, geslaap en gedroom van padel. Sonder veel kennis koop ek sommer my eerste padel-rakket op Yaga — ’n toep waar jy enigiets tweedehands kan koop, van klere tot hokkiestokke.
’n Maand later speel ons weekliks. “Speel” is natuurlik ’n relatiewe term. Dit was meer hoop die bal bly lank genoeg in spel sodat ons darem kan sweet en voel ons verbrand ’n paar vetjies. Maar daar is een probleem met sport — as jy heeltyd verloor, raak dit nie lekker nie. En ek is maar kompeterend. Verloor is ook ’n relatiewe term, want daar is agt plekke…maar heel onder op die lys wil niemand wees nie.
Na my perdry-ongeluk sowat 7 maande gelede, mag ek nie meer ry nie en ek moes iets kry om my besig en aktief te hou. Ek het besef hoe belangrik dit is om‘n stokperdjie te hê wat jou kan uitdaag, besig hou en wat nie werk is nie, wat jou uit die huis kry en jou kop stil maak. Padel het onverwags daardie plek begin volstaan.
Toe sien ek ’n advertensie vir Johann Koch wat padel-lesse aanbied en ek besluit om een te probeer.
Na die eerste les was daar onmiddellik ’n verskil. Skielik besef ek padel gaan nie net oor die bal rond slaan en hoop iets werk nie.
Selfs jou greep maak ’n enorme verskil. Dinge soos voetwerk, posisionering en wanneer om ’n bal te los eerder as slaan, het skielik sin begin maak.
Nou, ’n maand later, het my spel nie net verbeter nie — ek leer hoe om ’n bal te lees, ek is nie meer bang vir harde, vinnige balle nie en ek begin selfs gemaklik voor by die net speel. Die lekkerste deel is die klein oorwinnings — daardie een goeie hou wat jy perfek raak slaan of ’n “rally” wat langer hou as wat jy ooit gedink het jy kan regkry.
Sal ek eendag ’n professionele padelspeler wees? Beslis nie.
Maar wil ek die spel geniet en met selfvertroue speel? Absoluut.
Lesse in enige sport is nie ’n luuks-heid nie, dit is ’n prioriteit. Dit maak letterlik ’n dag-en-nag verskil.
En weet jy wat? Jy verdien dit. Belê in jouself, jou gesondheid en iets wat jou weer opgewonde maak oor die lewe. Soms begin die beste dinge sommer net met een impulsiewe nuuskierige ding wat jy nooit beplan het om ernstig op te neem nie. En mens vergeet vinnig — jy is dit werd.
Vir padel- of tennislesse, kontak gerus vir Johann Kock op 081 443 0202. Hy kry ook fantastiese pryse op die beste handelsmerke vir enige toerusting soos tekkies, balle en rakette. (ANGELIQUE ERASMUS)
’n Padel obsessie
Die dames wat gisteraand deelgeneem het by Oudtshoorn Padel aan die “Queen of the Court” wedstryd. Dit was hope pret op en van die baan af gewees. Foto verskaf