Groot gees en sterk rugby toe Oudtshoorn en George ná 14 jaar weer kragte meet

Foto verskaf.

Die langverwagte rugbybotsing tussen Oudtshoorn Rugbyklub en George Rugbyklub het die afgelope naweek groot opwinding op Oudtshoorn se tuisgrond gebring toe die twee klubs ná 14 jaar weer teen mekaar te staan gekom het.

Rugbyondersteuners van regoor die streek het saamgestem dat dit ’n dag van uitstekende gees, harde maar goeie rugby en uitstekende ondersteuning was. Die atmosfeer op die veld en langs die kantlyn het gewys hoe diep rugby in die gemeenskap gewortel is.

Oudtshoorn Rugbyklub se tweede- en derdespanne het sterk vertonings gelewer en albei hul wedstryde gewen. Die derdespan het met ’n oortuigende 38-7 oorwinning gespog, terwyl die tweedespan hul wedstryd met 25-5 gewen het.

Die hoofwedstryd tussen die twee eerstespanne het egter vir talle spanningsvolle oomblikke gesorg. George het uiteindelik die wedstryd met 33-14 gewen ná ’n intense kragmeting tussen die twee spanne. Volgens Harry Coetzee, hoof-afrigter van Oudtshoorn Rugbyklub, speel die span vanjaar weer teen sterker teenstanders nadat hulle na ’n hoër liga opgeskuif het.

“Daar is heelwat spelers in die George-span wat uit gevestigde rugbyskole soos Hoër Landbouskool Oakdale en Hoërskool Outeniqua kom, wat van hulle ’n besonder sterk span maak wat moeilik geklop sal word,” het Coetzee gesê.

Hy het verduidelik dat Oudtshoorn vroeg in die wedstryd onder druk gekom het. “Ons het sewe strafskoppe binne die eerste 15 minute afgestaan, wat ons momentum gebreek het. Ons was op ’n stadium 28-0 agter en teen rustyd was die telling 28-7.”

Volgens Coetzee het Oudtshoorn in die tweede helfte beter terugbaklei en meer gebiedsvoordeel geniet, maar die skade van die eerste helfte was reeds gedoen. Jonathan Botha, een van die afrigters, het gesê George se hoë speltempo en sterk verdediging was deurslaggewend in die uitslag.

“George het van die begin af hul kanse beter benut om punte aan te teken. Hul verdediging was van hoë gehalte en dit het dit vir ons moeilik gemaak om verder punte aan te teken,” het hy gesê.

Oudtshoorn Rugbyklub het ook hul dank uitgespreek teenoor Die Hoorn vir die regstreekse stroom van die wedstryd tussen die twee eerste-spanne, wat ondersteuners wat nie die wedstryd kon bywoon nie, die geleentheid gegee het om deel van die dag se aksie te wees. (GRANWILLE GOLIATH)