Rugby-uitslae van die naweek

Bo: Oudtshoorn se tweede rugbyspan wat hul wedstryd teen Willowmore gewen het. Onder: Die span van die Harlequins teen die Maori's. Foto's verskaf

DIE rugbyspanne van die Oudtshoorn Rugbyklub het verlede Vrydag teen Willowmore te staan gekom op die REC in Oudtshoorn.

Dit was weereens ’n suksesvolle aand vir die spanne van Oudtshoorn met die B-span wat hul wedstryd gewen het met 10-3. Die A-span het egter ’n bittersoet oorwinning gehad van 5-0, omdat die wedstryd aan hulle toegeken is nadat die span van Willowmore na die eerste paar minute van die wedstryd van die veld afgestap het nadat hul kaptein ’n geel kaart gekry het en hy besluit het dat hulle nie verder gaan speel nie.

In ʼn ander wedstryd het die Harlequins verlede Saterdag teen die Maori’s gespeel en die A-span het hul wedstryd gewen met 31 punte teenoor 24 vir die Maori’s. Die B-span het hul wedstryd met een punt verloor met die telling 29-30. Die Harlequins lê tans tiende op die SWD Super Liga A-punteleer. Die spanne van die All Blacks het ook moeilikheid vir hul teenstanders op die veld gemaak toe hulle in albei hul wedstryde die spanne van Happy Hearts druipstert huis toe gestuur het. Die A-span se wentelling was 29-20 en die B-span het met 51-10 koning gekraai. (Deur Lindi Brill)