Barnard wen Jongboer van die jaar

FOTO; Jannie Strydom (Hoof Uitvoerende Beampte Agri Wes-Kaap), Villiers Loubser (President Agri Wes-Kaap), Dean Barnard (Agri Wes-Kaap Jongboer van die Jaar 2024), Daniel Stevens (Santam Landbou).

DEAN Barnard (40) is op 13 Junie in die Paarl as die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2024 gekroon. Dean boer al 19 jaar saam met sy pa op Waboomskraal, George, waar hy nou al die laaste 8 jaar die boerdery by sy pa oorgeneem het.  Hulle boer met hops, pruime, amandels en pekanneute. 

Barnard het in 2002 aan die Hoërskool Landbouskool Oakdale gematrikuleer, en na skool het hy Bemarkingbestuur aan die Nelson Mandela Universiteit (Saasveld) studeer vir 2 jaar- tot sy pa hom een oggend gebel en gesê het dis tyd hy terugkom plaas toe. 

Oppie Plaas-boerdery is een van 7 hopsboere in Afrika en die voetspoor vir Castle en Castle lite is slegs hops wat in Suid-Afrika geproduseer word.  Die boerdery is ook die laaste 15 jaar onder die top 3 hopsprodusente.  Die 2023 Autum Treat pruim-oes het vir hule net onder die 100 ton per ha gelewer.  Dean glo ook dat sy 486 g pruim die Guinness World of Records gaan haal aangesien die rekord tans 354,37 g is. 

Sedert Dean die leisels oorgeneem het is die vernaamste veranderinge wat hy in die boerdery gedurende die afgelope vyf jaar teweeggebring het nuwe besproeiingstegnologie vir effektiewer waterbesparing wat sodoende meer ekonomies is, die aanplant van nuwe pruim- en amandelboorde en ʼn nuwe hopsaanplanting op huurgrond. 

“Elke jaar is ʼn nuwe uitdaging en ek geniet ’n uitdaging baie.  Met die hoeveelheid grond tot my beskikking is dit ’n intensiewe boerdery wat elke besluit beïnvloed”, het Barnard trots gesê.

Sy langtermynvisie vir hul boerdery is om die pruime uit te brei na tussen 15 en 20 ha en hul eie pakstoor op te rig om hul vrugte-oeste te stoor sowel as om dit beskikbaar te stel vir boere in die gemeenskap wat dit kan huur om hul uie in te stoor.