Rolbaldag lok meer as 100 spelers

Aksie tydens die Oudtshoorn Rolbalklub se Oudtshoorn Trips Dag, waar meer as 100 spelers van onder meer die Tuinroete, Wes-Kaap en Oos-Kaap teen mekaar gekompeteer het. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Rolbalbaan was Saterdag (30 Oktober) ’n miernes van bedrywigheid toe meer as 100 spelers van onder meer die Tuinroete, Wes-Kaap en Oos-Kaap by die baan bymekaargekom het vir die Rolbalklub se Oudtshoorn Trips Dag.
Spelers het van sover as Kraaifontein, Hermanus, Carnarvon, Augulhas, Kaapstad, Hartenbos, Mosselbaai, George, Graaff-Reinet, Riversdal, Somerset-Wes, Cradock, Parow en Beaufort-Wes gekom; altesame 38 spanne, waarvan die jongste speler slegs 10 jaar oud was.

Inge Geldenhuys (10) het saam met haar pa, Eden-speler Marthinus Geldenhuys, opponente van vier tot vyf keer haar ouderdom aangevat. Sy het vir Die Hoorn vertel dit is juis haar pa én oupa se belangstelling in die spel wat haar aangemoedig het om te speel.

Daar was selfs ’n voormalige en ’n huidige Protea-speler op die bane! Billy Radloff het die Protea Rolbalspan vanaf 2004 tot 2019 verteenwoordig, terwyl Colleen Piketh die Protea’s steeds verteenwoordig.

Piketh was selfs ’n goue medaljewenner in die Statebondspele in Glasgow, Skotland se pare-kompetisie.

Volgens Piketh is hierdie tipe rolbaldae van kardinale belang om die sport te ontwikkel, en om veral jonger mense aan te moedig om betrokke te raak by die sport. “Dit is nie net meer ’n sport vir die ouer garde nie. Hier is oud en jonk, beginners tot Protea-spelers, en selfs ’n speler in ’n rolstoel almal bymekaar,” het sy gesê.

Die wenners van die dag – wat geborg is deur Liquor City Oudtshoorn en Food Lover’s Market op Oudtshoorn – was Andries Janse van Rensburg, Dries Du Plessis en Piketh self. Dit is ’n jaarlikse toernooi.Volgens die klub is daar net een algemene wenner, maar die top 11 spanne het pryse ontvang. (Deur Stefan Skapie Goosen)