Die 49ste SA Tweekampkampioenskappe, wat op 20 en 21 Maart in Oudtshoorn aangebied is, het as ’n groot sukses afgesluit met uitstekende prestasies, nuwe rekords en sterk deelname van regoor Suid-Afrika. Altesaam 862 atlete van 14 provinsies het aan die byeenkoms deelgeneem, wat deur Eden Twee-kamp as gasheer-provinsie aangebied is.
Die kampioenskappe is amptelik op Vrydag geopen deur die waarnemende burgemeester van Oudts-hoorn, raadslid Zoë Tyatya, tydens ’n indrukwekkende openingsgeleentheid.
Met ideale weerstoestande vir tweekamp het atlete hul beste gelewer, en drie nuwe Suid-Afrikaanse rekords is opgestel – ’n bewys van die hoë standaard van kompetisie.
In die spankompetisie vir die 10-jaar ouderdomsgroep het die Wes-Kaap die eerste plek behaal, gevolg deur Boland en Gauteng-Noord, met Eden in ’n verdienstelike vierde plek. Spesiale erkenning is ook gegee aan voormalige president Blackie Swart, wat erelidmaatskap ontvang het, asook atlete wat aan meer as tien SA kampioenskappe deelgeneem het.
Die naweek se verrigtinge is afgesluit met ’n glansryke galafunksie by die Highgate Volstruisplaas, waar meer as 1 000 atlete, beamptes en ondersteuners teenwoordig was.
Tydens die geleentheid is topatlete vereer, met uitblinkers soos Sizikazi Mbuqe (Junior Victrix), Reynard Grobler (Junior Victor), Kathleen Gey von Pittius (Senior Victrix) en Pierre Spies (Senior Victor) wat groot eer behaal het.
Eden Tweekamp het besonder goed gevaar en die kampioenskappe op ’n hoë noot afgesluit. Die span van 95 atlete het vierde geëindig algeheel en ’n uitstekende derde plek in die junior afdeling behaal.
Eden-atlete het altesaam sewe medaljes verower, benewens ses goue medaljes deur die SB-span.
Individuele prestasies het onder meer ingesluit Pierre Spies se goue medalje en nuwe SA rekord, asook medaljes vir Liam de Wet, Judah Spies, Leah Hopper en verskeie meesters-atlete. Marsel Roos en Mandi Wallace is ook vereer vir hul volgehoue deelname aan SA kampioenskappe.
In die skolekompetisie het Eden sy diepte gewys. Laerskool George-Suid is as SA kampioen gekroon, terwyl Hoërskool Outeniqua die hoërskole-afdeling gewen het.
Na afloop van die suksesvolle byeenkoms is aangekondig dat Oudtshoorn weer die gasheer vir die historiese 50ste SA Tweekampkampioenskappe in 2027 sal wees – ’n duidelike bewys dat die dorp hom as ’n voorkeurbestemming vir twee-kamp in Suid-Afrika gevestig het.
Rekords spat by die 49ste SA Tweekamp op Oudtshoorn
Foto's verskaf