Rekords kan spat by tweekampbyeenkoms

TWEEKAMPATLETE van sewe provinsies meet Saterdag 1 Februarie kragte by die 29ste interprovinsiale byeenkoms op Oudtshoorn, wat oor die jare bekend geword het vir re- kordvertonings.

By verlede jaar se byeenkoms, waaraan 594 atlete deelgeneem het, is drie SA rekords en agt byeenkoms-rekords aangeteken.

Vanjaar gaan 616 atlete aan die byeenkoms deelneem, wat dit die grootste interprovinsiale toernooi nog sal maak.

Van die land se top-tweekampatlete kan dié dag in aksie gesien word, insluitend Johan Windt, Ruben en Lomé Gous, Luke Scott, Andre Kleynhans, Walter Lutsch, Jada Coetzee, Mathew Seabrook en Minke Janse van Rensburg (Eden); Retief Ochse, Kelly Vroon, Taliana Thomatos, Charne van Tonder, Brendon Oosthuizen, Jeandre Swanepoel, Roger Bezuidenhout, Marille Bass (WP); Keira van Heerden, Matthew van Coller, Anke Serfontein, Code Coombe-Davis (OP); Michiel Brand, Leatitia Human (GW) en Mike Forbes (Grens).

Volgens Dave van der Walt van Eden Tweekamp word dié toernooi deur die provinsies gebruik om aan hulle spanne vir die SA’s te skaaf, wat op 20 en 21 Maart gehou word.

Die hardloop-gedeelte begin om 08:00 by die De Jager-sportkompleks, gevolg deur die swem-gedeelte by die NA Smit-swembad. Toegang is gratis.
Vir meer inligting kontak Dave by 082 773 4901.