Cobras en Warriors pak mekaar by Rec

DIE Cape Cobras se openingswedstryd in die Momentum Eendagbekerreeks vind Sondag (2 Februarie) op die Oudtshoorn Sportgronde plaas wanneer hulle kragte meet teen die Warriors.

Volgens die hoof- uitvoerende beampte van SWD Krieket, Albertus Kennedy, hoop hulle om ’n volgepakte stadion te hê. “Ons hoop regtig die hoë profiel spelers wat in aksie gaan wees, sal krieket-liefhebbers aanmoedig om die wedstryd by te woon.” Die wedstryd word regstreeks op Supersport 2 uitgesaai.

Danksy die goeie reën onlangs is die buiteveld in ’n baie beter toestand as in vorige jare.

Die Rec moet een van die Cobras se gunsteling velde wees aangesien hulle albei hul vorige eendagwedstryde hier gewen het – in Desember 2017 met 78 lopies teen die Warriors en in Februarie 2019 met 21 lopies teen die Lions.

Die Cobras, met Ashwell Prince as afrigter, spog met verskeie internasionale spelers insluitend Zubair Hamza, Pieter Malan en Dane Paterson wat die Proteas in die vorige toetsreeks teen Engeland verteenwoordig het. Nog ’n sleutelspeler vir die Cobras is George Linde, wat nog altyd uitstekend in wedstryde op die Rec gevaar het.

Die Warriors, wat afgerig word deur Robin Pietersen, Ashwell Prince se voormalige Proteas-spanmaat, geniet dit ook om op Oudtshoorn te speel. Dit is immers die tuisveld van die bouler Glenton Stuurman wat al vir die SWD uitgedraf het. Nog ’n voormalige SWD-speler, Hanno Kotze, is deel van die Cobras-span.

Kaartjies is te koop by SWD Krieket se kantoor op die Rec-gronde of by die hek op wedstryddag. Ekstra parkering is beskikbaar langs die munisipale kantore aan die oostekant van die Rec. Die gebied in Vredestraat aan die suidelike kant van die Rec sal afgesper word weens die televisie-uitsending.

Die spanne is:
Cobras: Pieter Malan, Zubayer Hamza, David Beddingham, Jason Smith, Aviwe Mgijima, George Linde, Dane Piedt, Rory Kleinveldt, Dane Paterson, Nandré Burger, Thando Ntini, Hanno Kotze en Mihlali Mpongwana.

Warriors: Gihaan Cloete, Matthew Breetzke, Sinethemba Qeshile, Mohamed Vallie, Rudi Second, Marco Marais, Onke Nyaku, Aya Gqamane, Andrew Birch, Glenton Stuurman, Dyllan Matthews, Lesiba Ngoepe en Sthembile Langa.