Rangers mors met Kango United

Lorenzo Jullies, heelagter van Spring Roses in aksie tydens sy span se wedstryd teen Harlequins Vrydagaand op die Bridgton Sportgronde. Spring Roses het die wedstryd met 20-10 gewen.

Lorenzo Jullies, heelagter van Spring Roses in aksie tydens sy span se wedstryd teen Harlequins Vrydagaand op die Bridgton Sportgronde. Spring Roses het die wedstryd met 20-10 gewen.

Deur Garnett Wicomb
DIE rugbyspan van Dysselsdorp Rangers het Saterdag Kango United met 66-5 oorrompel nadat hulle met rustyd 31-0 voorgeloop het.

Dit was Rangers se derde oorwinning ná mekaar in SWD Karoostreekliga.

Rangers wat ’n nuwe afrigtingspan het, het met aanskoulike hardlooprugby tien drieë gedruk. Die span wemel van belowende jong spelers met die senior spelers wat as mentors vir die jonges optree.

Die grondslag vir Saterdag se oorwinning is gelê deur ’n puik pak voorspelers.
Rangers se kaptein Deidric Booysen (senter), Dawid Coerecius (stut) en Davestin Esau (heel-agter) het elk twee drieë gedruk en Caserino Lewis (vleuel) en die plaasvervangers, Eric Campher, Donnie Makonie en Denzil elk een drie.

Esau het agt van die drieë verdoel vir ’n persoonlike bydrae van 26 punte.

Ander uitblinkers was voorlangs Sammy-Jo van Aswegen (haker), Leeroy Jansen (flank) en Peet Samson (slot). Agterlangs was André Belelie (losskakel) en Danielo Antonie (skrumskakel) die groot dorings in Kango United se vlees.

• Rangers het vroeër vanjaar die Karoostreek- sewestoernooi op sy tuisveld gewen toe hy Calitzdorp in die eindstryd geklop het. Rangers speel Saterdag op Avontuur teen Glenroses.