Deur Garnett Wicomb
OUDTSHOORN PARKRUN wat Saterdag-og-gende by Surval Olyflandgoed plaasvind, het Saterdag sy derde verjaardag met kolwyntjies, koffie, tee, sappe en ballonne langs die 5km roete gevier.
Die eerste Parkrun op 18 April 2015 met 84 deelnemers is gewen deur die bekende atleet Ettiene Plaatjies in 16 min 16 sek. Marietjie McDermott was die eerste vrouewenner in 22 min 21 sek.
Verlede Saterdag se 157ste een is gewen deur Yaron Venter in 20 min 40 sek met Tarren Jullies die eerste vrou in 25 min 29 sek.
Ander goeie tye was: Aaron Troy Lategan, ’n 13-jarige in 22:04, Thys Jamneck (22:22), Glenton Stuurman (22:45), Christo Niemand (22:52), Hen-ry Carstens (23:23) en Johan Lingervelder (23:49).
Oupa Vermeulen het Saterdag namens Oudtshoorn Parkrun sy opregte dank teenoor al die borge uitgespreek met ’n spesiale dankie aan Surval wat die terrein gratis beskikbaar stel.
Altesame 115 drawwers en stappers het Saterdag deelgeneem. Onder die besoekers wat deelgeneem het, was die 67-jarige Armin Brandle van Port Elizabeth, ’n man wat al vier Ystermankompetisies in Suid Afrika en twee in die buiteland voltooi het.
Charles Theron het op Saterdag, 14 April, sy 100ste Parkrun voltooi.