Deur Higgo Jacobs
DIE twaalfde Redstone Hills-bergfietsrenne en -veldwedlope vind van Vrydag en Saterdag, 11 en 12 Mei, op die plaas Buffelskloof in die Kruisri-vier-omgewing wes van Oudtshoorn plaas.
Die opwinding begin die Vrydag om 18:30 met ’n nagrit oor 11 km, asook ’n nagpadwedloop van 11 km, gevolg deur ’n tradisionele potjiekosete en vrolike musiek wat die voete sal laat jeuk.
Die bergfietsryers kan hul vanjaar gereed maak vir roetes van oor onderskeidelik 60 km, 43 km, 17 km en 11 km in die skilderagtige Kruisrivier-omgewing.
Saterdag se fietsrenne begin vanaf 08:30. Daar is die oggend ook padwedlope en pretlope oor 20km, 11km en 5km. Die prysuitdeling vind om 12:30 in die groot skuur by die opstal plaas.
Vir besoekers wat wil uitry en die natuurskoon geniet en gesellig verkeer, is daar ’n plaasbasaar waar allerlei plaasprodukte, braavleis en wors en selfs vars vleis by die vleistafel te koop sal wees.
Die kinders kan ook met ’n verskeidenheid plaasdiere kennis maak. ’n Biertuin met ’n groot TV-skerm sal in die dorstiges en sportliefhebbers se behoeftes voorsien.
Registrasie kan reeds aanlyn gedoen word by www.cycleevents.co.za/mtb-events/17312. Die sluitingsdatum is 7 Mei.
Registrasie kan ook Vrydag om 17:00 en weer Saterdag vanaf 06:30 op die plaas gedoen word.
Die organiseerders van die program is die Redstone Hill Trust, ’n nie-winsgewende organisasie wat dit ten doel het om die lewensomstandighede van veral die plaaswerkers in die omgewing te verbeter.
Vir meer inligting raadpleeg die webwerf by www.redstonehills.co.za of kontak Briëtte Barry by info@redstonehills.co.za