
Die skilderagtige dorpie Prins Albert, in Suid-Afrika, was die gasheer van die tweede onvergeetlike Prince George Monumental 100 Miler fietswedren.
Die dorp het begin lewe met die avontuurgees en kameraadskap soos wat van ‘n Dryland-geleentheid verwag kan word. Deelnemers het op 14 Oktober 2023 in Prins Albert weggespring en hierdie wrede maar pragtige 100-myl-ren met ‘n totale styging van 2 500 m, aangepak. Die Prince George-roete het die fietsryers oor die Swartbergpas vanaf die noordelike kant, deur die Klein Karoo en oor die Montagupas na George geneem. Dit was ‘n kombinasie van rowwe- en gelykgrondpaaie, uitmergelende opdraandes en vinnige afdraandes. Met nagenoeg perfekte weerstoestande kon die fietsryers drie diverse geografiese gebiede, twee nasionale-monumentberge en pragtige landskappe na ‘n uitsonderlike reënval seisoen ervaar.
In die top manswedren het die meerderheid van die veld met grondpadfietse meegeding. Wessel Botha en Pieter du Toit was onder die gunstelinge vir die titel. Alhoewel hulle vir Wayne van der Walt en Donovan le Cok op hul hakke gehad het, het Wessel Botha aanspraak gemaak op die Ko-ning van die Swartberg-titel. Pieter du Toit het as die amptelike Prins George 100 Miler-kampioen van 2023 huiswaarts gekeer. Die voorreg om by die wennerskring aan te sluit, het egter nie maklik gekom nie, aangesien ‘n naelloop na die eindstreep ‘n spanningsvolle affêre opsom. “Dit was elke man vir homself en die “sprint” was voluit,” het Pieter du Toit gelag by die Witfontein eindpunt. Du Toit het die lyn oorgesteek met ‘n wentyd van 5 uur, 22 minute en 1 sekonde, wat die rekord van die openingswedren in 2022 verbeter het. Botha het tweede gekom, met slegs enkele sekondes wat hom van sy spanmaat skei. Van der Walt het gevolg met 30 minute en 49 sekondes en Le Cok kort daarna. Jaco Davel het die top vyf afgesluit met ‘n tyd van 6 uur, 1 minuut en 47 sekondes.
In die top vrouewedren was Cherise Willeit, die huidige nasionale grondpadkampioen, seker om die pas vir die res van die veld te stel. Maar dit was die plaaslike bergfietslegende, Robyn de Groot, wat die Koningin van die Swartberg-kroon ingepalm het. Cherise Willeit het De Groot ingehaal op die plat stukke met haar grondpadfiets en het uiteindelik die Prins George 100 Miler-vrouekampioentitel met ‘n groot glimlag op haar gesig gewen. “Robyn is ‘n elegante ryer en het my gedwing om vir elke trap wat ek vandag gegee het, te werk,” het Willeit bely. “Ek haal my hoed af vir Dryland. Wat ‘n wonderlike dag, ek het dit absoluut geniet!” Willeit se wentyd was 6 uur, 24 minute en 7 sekondes, met De Groot net 17 sekondes agter haar. Sabine Spitz, nog ‘n bergfiets-koningin, het 24 minute later in die derde plek geëindig.
Die Prince George Monumental 100 Miler was die finale geleentheid in die XGR Wes-Kaapse Grondpad bekerreeks. Om punte te versamel, moes mededingers deelneem aan ten minste drie geleenthede in die reeks. Donovan le Cok en Cherise Willeit het bo-aan die punteleer geeïndig met die meeste punte en het weggery met die Wes-Kaapse Grondpadreeks-titels. (Deur Lindi Brill)