Anver Venter, heelagter van Bridgton, op pad doellyn toe met die bal. Foto: Ebenezer Titus
DIE inisiatief van Rugby SA om ’n wedstryd in die Supersport Rugby-uitdaagreeks na die Bridgton Sportgronde (Plate) te bring was ’n reuse-sukses met die sportgronde wat uit sy nate gebars het!
Advertensieborde en Supersport se kommentators, kame-ramanne en aanbieders het die stemming help skep van die groot sportgeleentheid wat dit was. Plaaslike rugbygeesdriftiges het lanklaas sulke feestelikheid en professionaliteit by die Plate ervaar. Ondersteuners het in hul duisende met groot verwagtinge opgedaag. Hulle is nie teleurgestel nie met opwindende rugby wat opgedis is en wat ’n pluimpie vir die SWD Arende en Rugby SA was.
Deur Schalk le Roux en Wyndham Ewerts
IN ’n wedstryd Sondag wat gekenmerk is deur hanteerfoute deur die eerste span van die Bridgton Rugbyklub het die span Sondag in ’n SWD Premierligawedstryd op die Bridgton Sportgronde (Plate) die knie met 35-23 voor Progess gebuig.
Die wedstryd, wat op Supersport gebeeldsend is, was die hoofvoorwedstryd vir ’n wedstryd tus-sen SWD en WP wat op die Plate gespeel is.
Met dié oorwinning het Progress van George sy voorsprong boaan die punteleer van die Premier-liga vergroot. Progress het nou ná elf wedstryd 48 punte en Bridgton, wat tweede op die punteleer is, het nou ná twaalf wedstryde 43 punte.
Bridgton het die eerste helfte van die wedstryd hul man behoorlik gestaan en was ná sowat 30 minute met 11-8 voor danksy ’n onverdoelde drie deur Ruahl Lewis (slot) en twee strafdoele deur Anver Venter, heelagter.
Progress se losskakel, Jade Roelofse, het egter kort daarna ’n strafdoel behaal en ’n drie van Clint Wagman verdoel vir ’n halftydtelling van 18-11.
Bridgton het die eerste punte van die tweede helfte aangeteken met ’n drie deur sy skrumskakel, Graham September, wat vanaf ’n lynstaan gebreek het om langs die pale te druk. Met die doelskop wat mis was, was die telling 18-16 vir Progress.
Hierna het die damwal egter so ’n bietjie gebreek. Progress se plaasvervangerskrumskakel, Ethan Williams, het mooi om ’n skrum gebreek om ’n drie te gaan druk wat deur Roelofse verdoel is.
Venter, wat normaalweg ’n veilige paar hande het, het die bal kort hierna op sy doellyn aange-slaan. In die daaropvolgende skrum het Progress se een flank, Solomon Manxodidi, ’n oorstootdrie gedruk met Roelofse wat weer verdoel het en daarna ook ’n strafdoel behaal het om die telling op 35-16 te staan te bring.
In die laaste kwart van die wedstryd het Bridgton verbete teruggeveg, maar was daar te veel on-nodige aanslane en foute. In die 68ste minuut is Donald Bratz boonop met ’n rooikaart van die veld gestuur weens ’n hoogvat.
Venter het kort daarna ’n bal in sy eie kwartgebied onderskep en deurgenael vir ’n drie wat deur Adrian Booysen (losskakel) verdoel is vir die eindtelling van 35-23.
Die groot verskil tussen die twee spanne was dat Progress se agterlyn baie meer afgerond was en minder foute begaan het. As dit nie vir Bridgton se onverskrokke verdediging was nie, kon hulle baie verder verloor het. Hier teenoor het Bridgton verskeie kere die bal tydens belowende aanvalle onnodig aangeslaan.
Bridgton se B-span en C-span het Progress onderskeidelik met 10-5 en 15-7 gewen.
• In die hoofwedstryd het ’n moedige SWD net-net met 46-41 teen DHL WP verloor.