Deur Ben du Preez en Wyndham Ewerts
DIE eerste span van die Oudtshoorn Rugbyklub het Saterdag (24 Junie) op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) sy onoorwonne seisoen voortgesit deur Swings van Haarlem met 43-8 in ’n SWD Presidentsligawedstryd (Karoostreek) te klop.
Volgens Emile Lamprecht, afrigter van Oudts-hoorn, was dit nie een van Oudtshoorn se beste vertonings nie, maar hy is tevrede met die uitslag.
Vir Oudtshoorn het Jaco Marx, agtsteman en kaptein, twee drieë gedruk, en Werner Wildeman (linkervleuel), Ruan Tolken (regtervleuel), Dimitri Arendse (slot), Shaun van der Scheff (buitesenter) en Patrick Olkers (linkervleuel) elk een drie. Anru Tolken (losskakel) het vier keer verdoel.
Oudtshoorn speel Saterdag (1 Julie) vanaf 15:30 op die Rec teen Glen Roses.
• In nog ’n Karoostreekwedstryd het Collegians Saterdag met 12-20 op Uniondale teen Uniondale verloor. Die rustyd telling was 5-20.
Collegians se puntemakers was Donald Maksella, agtsteman en Ruduaan Geduld, haker, wat elke ’n drie gedruk het. Shedwick Sauls, losskakel het een van die drieë verdoel.
Collegians se B-span het met 21-3 teen die B span van Uniondale verloor.