Plaaslike bergfietsryers gee goed rekenskap van hulself in Cape Pioneer Trek

Yolande de Villiers en Joel Stransky, oud-Springbok, wat as span aan die CPT deelneem. Foto: ZC Marketing Consulting

Yolande de Villiers en Joel Stransky, oud-Springbok, wat as span aan die Cape Pioneer Trek deelneem. Foto: ZC Marketing Consulting

Machal Hendricks (links) en Louis Visser in goeie luim na-dat hulle gister se vierde skof van die Cape Pioneer Trek voltooi het.

Machal Hendricks (links) en Louis Visser in goeie luim na-dat hulle gister se vierde skof van die Cape Pioneer Trek voltooi het.

DIE Oudtshoorniete wat aan vanjaar se Momentum Health Cape Pioneer Trek met Biogen deelneem, het in die eerste vier skofte van dié multiskof-bergfietsren goed rekenskap van hulself gegee.

Die Cape Pioneer Trek (CPT) het Sondag op Mosselbaai begin waarna dit op George gaan draai het voordat die ryers vandag vanaf George by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn aankom.

Ná gister se vierde skof by George, in die vorm van ’n tydtoets, is Yolande de Villiers, gesoute plaaslike bergfietsryer, en haar spanmaat, Joel Stransky, oud-Springboklosskakel, algeheel derde in die gemengde afdeling. Kobus en Fienie Barnard van Oudtshoorn was ná die vierde skof vierde in die gemengde afdeling.

Louis Visser (19) en Marchal Hendriks (22) van Oudtshoorn was ná gister se skof algeheel agtste onder die elite-mansspanne. Hulle het voor die CPT gesê hul mikpunt is ’n top 10-posisie. Visser is die jongste deelnemer aan vanjaar se CPT.

Ander Oudtshoorniete wat wys dat hulle van vasbyt ken, is Jorrie Jordan wat ná gister die 18de posisie in die solo-mansafdeling beklee, en Anru de Wet wat 28ste in dié afdeling lê.

Een van die opwindendste en taaiste skofte vind môre plaas. Dit begin by Langenhoven Gimnasium en eindig op die hoogste punt van die Swartbergpas.

Saterdag se laaste skof eindig in Baron van Reedestraat voor die Queen’s Hotel. Oudtshoorniete word genooi om die ryers ná 7 taai skofte by die eindpunte te kom verwelkom.

Vir meer inligting oor die CPT en die volledige uitslae besoek gerus capepioneer.co.za of gaan na die Cape Pioneer Trek se Facebookblad vir foto’s en video’s.