
Provinsiale parlementslede saam met personeel van die Eden-distrik Sportakademie. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
’N AFVAARDIGING van tien provinsiale parlementariërs het Oudtshoorn Dinsdag besoek as deel van ’n toer deur die Suid-Kaap waartydens hulle verskeie instansies besoek het om hulle te vergewis van die omstandighede en behoeftes daar.
Die groep het bestaan uit die voorsitters en lede van vyf staande komitees in die Wes-Kaapse parlement oor onderwys, polisie, gesondheid, sport en kultuur en die kantoor van die premier.
Hulle het die Bridgton Polisiekantoor, Sonskyn Dagsorgsentrum van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede, Oudtshoorn Hospitaal, Eden-distrik Sportakademie en die Aurial Kollege besoek. Volgens Daylin Mitchell, leier van die afvaardiging en voorsitter van die staande komitee oor die premier se kantoor, verrig die staande komitees ’n oorsigrol om te verseker die provinsiale regering handhaaf en voer sy mandaat van kiesers uit.
Tydens die afvaardiging se besoek aan die dagsorgsentrum is hulle ingelig oor die sentrum se beperkte befondsing en fyn beplanning om kop bo water te hou. Met die besoek aan die Eden-distrik Sportakademie in die De Jager Sportkompleks het die bestuurder, Abrie de Swardt, ’n omvattende prentjie gegee van die Akademie se aktiwiteite en welslae. De Swardt het sy dank teenoor die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport uitgespreek vir die finansiële bydrae tot die akademie. Daar is tans 43 atlete en vyf sportkodes (atletiek, watersport, netbal, bofbal en fietsry) in die Akademie.
Volgens De Swardt sal die Akademie eersdaags spog met ’n splinternuwe gimnasium waar sportmanne en -vroue gratis sal kan kom oefen. “Ons het reeds al die toerusting en wag net vir die spesiale vloerbedekking,” het De Swardt gesê. Die Akademie het pas ook ’n sleepwa met toerusting ontvang wat aangewend sal word om verafgeleë gemeenskappe te besoek op soek na talent. Die voorsitter van die staande komitee oor sport en kultuur, Lennit Max, het die Akademie geluk gewens met wat vermag is.