De Krans oes toekennings in

Wynmaker Louis van der Riet met De Krans se trofees. Foto verskaf

Wynmaker Louis van der Riet met De Krans se trofees. Foto verskaf

DIE De Krans-landgoed buite Calitzdorp het uitgeblink op vanjaar se National Wine Challenge Top 100 SA Wines-kompetisie en met twee top 100- en dubbelplatinumtoekennings, ’n Grand Cru National Champion Best in Class- en ’n dubbelgoue toekenning weggeloop.

Die nasionale wynuitdaging sluit die Top 100 SA Wines, die vernaamste kompetisie vir uitsonderlike Suid-Afrikaanse wyne, in. Dié kompetisie is selfs buite die landsgrense bekend.

Die kategorieë vir toekennings word verdeel in grand cru eerste plek, dub­belplatinum, dubbelgoud en dubbelsilwer. Hierbenewens word die top 100 wyne met die hoogste tellings saamgegroepeer in die elite Top 100 SA Wines, ’n klub vir Suid-Afrika se beste wyne.

De Krans se wyne wat bekroon is, is die Tou­riga Nacional 2015 (top 100, dub­bel­pla­tinum én Grand Cru National Champion Best in Class), Cape Vintage Reserve 2014 (top 100 en dubbbelplatinum) en die Tritonia Calitzdorp Blend 2015 (dubbelgoud).

Die Touriga Nacional word gemaak van druiwe wat op die plaas self verbou word en word vir 12 maande in Franse eikehoutvate verouder. De Krans se wynmaker, Louis van der Riet, stel voor mens geniet hierdie bekroonde wyn met sappige volstruisfilet of enige ander wildsvleisgereg.

De Krans se Cape Vintage Port is ge­maak van verskeie Portugese kultivars en vir 22 maande verouder voor bottelering. Dit sal volgens Louis, sy optimale potensiaal na nog 20 tot 30 jaar bereik.
Die Tritonia Calitzdorp Blend is ’n droë rooi versnit van touriga nacional, tinta roriz en tinta barocca.