Oudtshoorniete maak stem dik in Meiringspoort

Bo: Atlete spring Saterdag-oggend by die waterval weg vir die 12,5 km-wedloop in Meiringspoort. Foto’s: Higgo Jacobs

John April, wenner van die Meiringspoort 21,1 km-wedloop

Francois Maquassa (links), manswenner van die Mei­ringspoort 12,5-wedloop, en Stephany Pedro, vroue-wenner van dié wedloop.

Anderson Mcube wat twee­de in die 12,5 km-wedloop. was.

Deur Higgo Jacobs
LANGASEMS van Oudtshoorn het Saterdag hul stem dik gemaak by die 27ste Mei­ringspoort-padwedlope oor 21,1 km en 12,5 km wat deur die organiseerders as die grootste nóg bestempel is.

Nagenoeg 4000 inskrywings is ontvang vir dié twee wedlope wat jaarliks in gewildheid toeneem.
John April (Nedbank SWD) van Oudts­hoorn het die wedloop oor 21,1 km in ’n goeie tyd van 1:09:35 gewen. Godwin Heyns (ook van Nedbank) was tweede in ’n tyd van 1:11:57.

Die eerste vroue-atleet oor hierdie af­stand was Andrea Steyn van Murray & Roberts in 1:20:23.
Helette du Plessis (oud-Gimmie) was die wenner onder die juniors (1:49:33). Booi Salman was die naaswenner in die afdeling vir veterane 40-49.

Francois Maquassa was eerste oor die wenstreep in die 12,5 km-wedloop met ’n puik tyd van 38:49. Anderson Mcube was die naaswenner (40:43) en Donovan Jantjies (40:50) derde. Al drie dié atlete is van Nedbank SWD.

Stephany Pedro van George was die vroue-wenner in hierdie wedloop in ’n tyd van 49:20.

Hans van der Veen was met ’n tyd van 52:53 die wenner in die afdeling vir meesters 50-59. In die afdeling vir grootmeesters 60-69 het Hestia Burger in ’n tyd van 1:18:20 gewen.

By die groot grootmeesters het Celia Swiegers gewen in ’n tyd van 1:36:13 met Geraldine Loftie-Eaton die naaswenner in 1:42:15.