NOG ’n terugslag het Oudtshoorn getref met die aankondiging verlede Donderdagaand (22 Oktober) dat SWD Krieket sy hoofkantoor uit Oudtshoorn gaan skuif.
Dié aankondiging volg op die nuus dat die AIFA-vliegskool sy deure einde November op Oudtshoorn vir studente sluit wat as ’n groot ekonomiese terugslag vir die dorp beskou word.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket, het dié aankondiging gedoen by ’n netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer op die Rec, waar SWD Krieket se hoofkantoor tans is.
Kennedy het gesê die sportbeheerliggaam het reeds in Maart verlede jaar ’n formele besluit geneem dat dit moeilik was om verder kommersieel lewensvatbaar op Oudtshoorn te wees, en dat ’n strategiese besluit geneem moes word.
Hulle het toe reeds die Oudtshoorn Munisipaliteit, ’n belangrike vennoot in SWD Krieket se teenwoordigheid op Oudtshoorn, ingelig van die verskuiwing.
“Strategies maak dit net vir ons meer sin om George toe te skuif,” het hy gesê.
Kennedy het Maandag gesê dat die besluit ook aan SWD Krieket se ander klubs voorgelê is en dat hulle die besluit steun.
“Ons besluit is beslis nie lukraak geneem nie, en ons het alles in ag geneem. Die groter kommersiële belang van SWD Krieket is vir ons en die distrik baie belangrik. Dit is dus bloot ’n strategiese besluit,” het hy bygevoeg. Die besluit word volgens Kennedy ook deur Krieket Suid-Afrika (KSA) ondersteun.
Kennedy het benadruk dat die verskuiwing na George onderhewig is aan die goedkeuring van George se munisipale raad.
Wat die besluit om te skuif bemoeilik het, is die feit dat SWD Krieket oor sy 16 jaar op Oudtshoorn wonderlike verhoudings op die dorp opgebou het: van die bankbestuurder tot besighede, koerante, gastehuiseienaars en inwoners, het Kennedy gesê.
Hy kon nie ’n presiese datum vir die verskuiwing verstrek nie, maar het bygevoeg dat dit nie onmiddelik sal plaasvind nie.
“Ons kan moontlik nog vir twee seisoene op Oudtshoorn gevestig bly, maar dit moet nog vasgestel word. Wat ’n uitgemaakte saak is, is dat krieketontwikkeling en -wedstryde steeds ná die waarskynlike verskuiwing George toe, op Oudtshoorn sal plaasvind.” (Deur Stefan Skapie Goosen)