Oudtshoorn sportfees sorg vir maandlange opwinding

Verteenwoordigers van sportkodes wat die bekendstelling bygewoon het is, van links: Rudie Venter(rolbal), Andrew Ruiters(domino's), Stefan Swanepoel(veerpyltjies), Mervin Minnies (inheemse spele), Dirk Van Der Westhuizen (ovaalbanwedrenne), Johnny Bischoff (trompoppies), Jean Neethling (kultuursake en sport) Martin Davids (rugby) Afwesig: Corne Bence (fietsry) en Gabriel Majolla (sokker). Foto’s: Tania Steffens Onder links: Die burgemeester, rdh Johan Allers, verwelkom die gaste by die openingsfunksie. Onder regs: Die onderburgemeester, Zoe Tyatya. Heelonder links: Johnny Bischoff, skoolhoof van Van Reedeskool gesels oor die nasionale trompoppiekamioenskappe. Heelonder regs: Jean Neethling van die departement van kultuursake en sport.

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, raadsheer Johan Allers, het gisteraand die Oudtshoorn Sportfees tydens ’n funksie by Route62 amptelik aangekondig.

In sy spreekbeurt het hy die ekonomiese inspuitting wat sport vir Oudtshoorn beteken, beklemtoon.
Hy het ook gesê dat die onderskeie sportgeleenthede wat vanaf vandag, 13 Junie tot Saterdag 19 Julie bykomstige werksgeleenthede vir Oudtshoorn verskaf.

Hy het die organiseerders van die onderskeie sportkodes, amptenare en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport bedank vir hulle aandeel om Oudtshoorn ’n gunsteling sport-bestemming te maak.

Jean Neethling van die departement van kultuur-sake en sport het gesê die Tuinroete en Klein Karoo is bevoorreg om befondsing vir vyf groot sportgeleenthede vanaf die provinsiale departement te ontvang. Die Oudtshoorn Sportfees is een van die vyf. Die fees begin vandag en môre met die o.13 Craven-week rugbytoernooi op die sportvelde van Hoërskool Oudtshoorn.

Volgende Saterdag, 21 Junie, vind die inheemse spele in die De Jager sportkompleks plaas.
Op Saterdag 28 Junie is daar twee sportkodes wat wedstryde aanbied. Die ope veerpyltjietoernooi vind by die Country Club by die skougronde plaas en ’n domino-kompetisie word by die Thusongsentrum aangebied.

Oudtshoorn is die tuiste van die nasionale trompoppie kampioenskappe wat op 4 julie en 12 Julie aangebied word. Hierdie kampioenskap lok meer as 3 000 mense vanoor die hele land na Oudtshoorn.
Die naweek van 12 Julie gaan daar nie akkommodasie vir ’n muis op die dorp wees nie. want die grootste jaarlikse nasionale ovaalbaankampioenskappe vind dan ook plaas.

Saam met die trompoppies en die ovaalbaan- wedrenne, vind die interprovinsiale rolbalkampioenskappe ook in Oudtshoorn plaas.

Dieselfde naweek vind die OLFA Top-agt sokkertoernooi in Dysselsdorp plaas. Dit is voorwaar ’n sportnaweek om na uit te sien.

Vanaf Dinsdag 15 Julie tot Donderdag 17 Julie is Oudtshoorn die gasheer van nog ’n nasionale sportgeleentheid – die nasionale jeugfietsry-kampioenskap.

Die maandlange sportfees word op Vrydag en Saterdag, 18 en 19 Julie, in die De Jagersportkompleks afgesluit met die provinsiale tuimel- en trampolien-gimnastiekkompetisie. Inwoners en besoekers word genooi om al die sportkodes te ondersteun. (HANNES VISSER)