Ystermanne en -vroue van Oudtshoorn het Saterdag aan die Ironman 70.3 op Mosselbaai deel geneem.
Wat die Ironman so uniek maak, is dat deelnemers in die see swem, dan fietsry en daarna hardloop.
Tydens Mosselbaai se 70,3 Ironman het deelnemers eers 1,9 km geswem. Daarna moes die fiets-speke vir ’n strawwe 90 km sing, voor die 21,1 km hardloop aangepak is. Vanjaar het meer as 1800 atlete deelgeneem.
Die Hoorn het met Oudtshoorn se ysters gesels, en hier was hulle ervarings, hoogtepunte en uitslae:
Marius Botha (foto heelbo): 24ste in sy kategorie, 152ste man en algeheel 17ste.
“Ek het vanjaar my tyd met 18 minute verbeter teenoor die vorige drie jaar gelede, en ook my persoonlike beste! Hierdie was my 4de Ironman waaraan ek deelgeneem het. ’n Dag van uithouvermoë en triomf! ’n Uitdaging wat atlete tot hul uiterste gedryf het. Almal het hul krag en vasberadenheid gewys.
Met ’n afsnytyd van 8 uur en 30 minute vanaf elke atleet se rolbegin, was dit ’n ware toets van uithouvermoë, wilskrag en passie. Mosselbaai het weer bewys: hier word legendes gemaak! Ek sal volgende jaar vir seker terug wees. ”

Jossie Steyn (bo): 90ste in haar kategorie, 403de vrou en algeheel 1 663ste.
“Dit was die tweede keer dat ek die Ironman aangepak het. Dit was weereens ’n belewenis gewees. Die wind terwyl ek die fietsry gedeelte aangepak het, het my beslis nederig gemaak.” Op ’n vraag of sy nie bang is vir die haaie nie, antwoord sy “Née wat, banger gewees vir almal se naels en toonnaels om my.”

James Schuin (bo): 136ste in sy kategorie, 1 305de man en algeheel 1 696ste.
“Ek het vanjaar aan al drie Ironman kompetisies deelgeneem. My eerste een was in Port Elizabeth. Ek het dit in 14 uur en 50 min voltooi. My tweede een was in Durban, en het ek hom in 7 uur en 10 min voltooi. Mosselbaai was my laaste een, en was my tyd 7 uur en 32 min.”
“ Ek het dus ook ’n ekstra medalje gekry omdat ek die reeks in een jaar voltooi het. Dit was beslis vir my ’n hoogtepunt en ’n mylpaal wat ek na toe gewerk het.”

Anel van Wyk (bo): 11de in haar kategorie, 114de vrou en algeheel 666ste.
“Ek het ‘n ongelooflike ervaring tydens die Ironman gehad. Ek het amper onttrek omdat ek nie by swem en padfiets oefen uitgekom het nie, maar het op nippertjie wel besluit hoekom nie, wat kan ek verloor? Alles het net in plek geval met die drie afdelings. Die belangrikste is dat jou kop moet sterk bly. Druk deur en moenie gaan lê nie. Niks kom maklik in die lewe en in sport lewe ook nie… Jy moet werk vir wat jy wil bereik. Ek sal dit def-initief volgende jaar weer aanpak. Ek is ook dankbaar vir almal wat altyd bly glo in my en my ondersteun – dit inspireer my.”
Saam met die opwinding en vasbyt, was daar ook hartseer nuus vanjaar met twee deelnemers wat tydens die swem gedeelte van die Ironman oorlede is. Hulle is Michael Clapperton (58) en Martin Pretorius (29).
Die organiseerders het in ’n mediaverklaring hul simpatie teenoor die gesinne uitgespreek.
“Ons harte en gedagtes gaan uit na die vriende en familie in hulle leedwese. Ons bedank ook die mediese en veiligheidspersoneel wat vinnig opgetree het om mediese hulp te bied.”
Hulle bied ondersteuning aan die families deur hierdie moeilike tyd.