Oudtshoorn se Haroline Rhodes vereer by Krieket SA-toekennings

DIE kaptein van die SWD Vroue-krie­ketspan, Union Stars Krieketklub se eie Haroline Rhodes, is tydens Krieket Suid-Afrika (KSA) se jaarlikse toekenningse­remonie vereer as die Suid-Afrikaanse Magte se vrouespeler van die jaar.

Hierdie Oudtshoorniet is Vrydagaand tydens KSA se amateurstoekennings benoem vir haar merkwaardige prestasies op nasionale vlak.

Die geleentheid is gehou ter ere van die sterre van môre en diegene wat onvermoeid agter die skerms werk om die spel te help ontwikkel.

Vanjaar is die toekennings virtueel op KSA se digitale mediaplatforms uitgesaai.

Haroline, tans ’n personeellid van die Oudtshoorn Infanterieskool, het vir die SANW uitgeblink tydens die SA Magtetoernooi in Februarie in Kaapstad. Spanne van die SA Polisiediens en die SA Korrektiewe Dienste het ook deelgeneem.

Sy is na die toernooi opgeneem in die SA Forces-span wat teen die Westelike Provinsie-vrouespan in Kaapstad gespeel het.

Die president van SWD Krieket, Rudy Claassen, was vol lof vir Haroline.

“Baie geluk, aan Haroline. Sy is deur die jare ’n konstante presteerder.

Hierdie beloning is welverdiend en maak SWD Krieket trots,” het hy gesê.

Haroline sê sy voel baie geeërd om “so ’n groot toekenning” te ontvang.

“Dis nie iets wat elke dag in jou skoot val nie,” sê sy.

Haroline vertel sy het al op elke vlak krieket gespeel, “van vlakkie-krieket, klub, en provinsiaal. Ek is ’n all-rounder, soos hulle dit noem, en ek verkies om te kolf, maar ek is nie te sleg met die bal nie,” vertel sy.

Haar gunsteling deel van die spel?

“Dit is om te wen,” spot sy met ’n breë glimlag.

Haroline voel daar is ’n toekoms vir vrouekrieket.

“Tydens my grootwordjare was dit nie so maklik nie, maar die fondasie is nou vir jonger spelers gelê.” (Deur Stefan Skapie Goosen)