Hierdie is vir die manne wat so nou en dan ’n bietjie DIY doen!

Ou balklep-tipe. (Links) Alles-in-een-tipe (Regs)

SO breek my toilet se inloopstelsel op ’n Sondag­aand – altyd op die onmoontlikste tyd. So gaan koop ek toe ’n nuwe inloopstelsel.

Ek bekyk die kontrepsie skepties en wonder waar die bal moet aan kom. By die huis haal ek die kontrepsie uit sy verpakking en bekyk die stelsel behoorlik deur. Die keer lees ek die manual en sien die stelsel het tot sy eie ingeboude filter en dat daar geen bal meer betrokke is nie. Ek haal die ou een uit en gou-gou is die nuwe een in. Toe net so ’n bietjie speel met die watervlakstelling en voila! Ek is klaar. Ek het my reggemaak vir sukkel.

Nou die dag moes ek ook by my skoonsuster ’n nuwe inloopstelsel-probleem oplos. Ek haal eers die klep uitmekaar om seker te maak die wasters is almal nog in ’n goeie toestand. Slegte nuus! Die hele klep moet vervang word. Daar sak ek weer af na die hardewarewinkel toe. Gelukkig is daar darem ’n paar van hulle oop die Sondag. Ek is net op soek na ’n nuwe klep – ek het mos al die ander dele. By die hardwarewinkel kom ek tot my skok agter dat ek die hele stelsel moet koop. Ek soek dadelik na dieselfde een wat ek installeer het, maar kan dit nie kry nie en moes toe maar die ou bal­klepstelsel koop.

Met die nuwe balklep in die hand, begin ek die proses om dit te installeer. Eers sukkel die ou een om uit te kom. Ou een uit en nuwe een in. Sit die armpie met die bal aan en so kom ek agter die armpie is te lank. Ek kan ook nie die armpie korter maak maak nie, want die plastiekdele op die punt kan nie afgehaal word nie. Ek haal die ou armpie af en sien ek kan dit nie gebruik nie, want die plastiekstuk is gebreek as gevolg van ouderdom. Ek klim weer in my motor, weer hardewarewinkel toe om ’n korter armpie te koop. Gewapen met die nuwe armpie dink ek dit gaan net ’n rukkie wees dan is alles klaar. Die armpie is so effens te lank en ek moet die bal diep indraai en die armpie so ’n bietjie buig sodat die bal nie aan die kant vashaak nie. Na vele probeerslae is die proses klaar.

Net daar belowe ek myself – jy soek van die nuwe stelsel as jy weer ’n inlaatstelsel moet vervang. (Deur Heinrich Bosman)