Oudtshoorn Rugbyklub se A-span het hul heel eerste wedstryd van die seisoen verloor met hul wegwedstryd verlede Saterdag teen die Spring Roses, met ’n telling van 19-31. Hierdie wedstryd het dus hul wenstreek van 10 agtereenvolgende wedstryde beëindig.
Daar was egter ’n goue rand aan die dag se donker wolk met die B-span wat hul wedstryd gewen het teen die Spring Roses se B-span. Die telling was 14-13 in Oudsthoorn se guns. Christo Swanepoel was as die speler van die wedstryd aangekondig. Oudtshoorn RFC se volgende wedstryde is op Saterdag, 6 Julie op die REC in Oudtshoorn teen die spanne van Dysselsdorp Rangers. Die Dysselsdorp Rangers se A-span het hulle wedstryd die afgelope naweek teen Calitzdorp Klippies gewen met ’n eindtelling van 31-15. Die B-span van die Rangers het ook ’n oorwinning gevier met ’n wentelling van 15-10.
In die wedstryde tussen Bridgton Rugbyklub en GrootBrak verlede Saterdag op die REC in Oudts-hoorn, het al drie die spanne van Bridgton as oorwinnaars van die veld af gestap met die A-span se telling van 46-29, die B-span met 30-26 en die C-span se telling van 12-0.
Bridgton se A-span is huidiglik in die eerste posisie op die SWD Superliga A-afdeling se punteleer met 44 punte, en die B-span in die derde posisie in die B-afdeling met 39 punte.
Ander wedstryde wat gespeel was, is die wedstryd tussen Ladismith en Adias. Adias het die span van Ladismith geklop met 22-7. DKD Eagles het met 10-31 verloor teen die span van Willowmore, en die Swings het vir Zoar geklop met 26-23. (Deur Lindi Brill)
Oudtshoorn RFC verloor eerste wedstryd van seisoen
Die B-span van die Oudtshoorn Rugbyklub wat hul wedstryd verlede naweek gewen het teen die Spring Roses. Foto: Verskaf