Oudtshoorn RFC onoorwonne in eerste helfte van liga

Die eerste span van die Oudtshoorn Rugbyklub na hul wedstryd verlede Saterdag teen Zoar. Dit was hul tiende agtereenvolgende oorwinning en die span is tans eerste op die punteleer vir die eerste helfte van die SWD Eersteliga B-afdeling. Foto: Verskaf

Die Oudtshoorn Rugbyklub se eerste span het Saterdag, 22 Junie weereens ’n oorwinning gevier toe hulle die span van Zoar geklop het met 18-13. Die wedstryd is op die REC in Oudtshoorn gespeel.

Hulle is dus onoorwonne in die eerste helfte van die rugbyliga en lê tans eerste op die SWD Eersteliga B-punteleer met 41 punte. Jaco Marx is as die speler van die wedstryd gekies.

Die punteleer van die SWD Eersteliga B-afdeling vir die Oostelike spanne lyk op hierdie stadium soos volg: 1. Oudts-hoorn (41); 2. Calitzdorp Klippies (34); 3. Zoar United (30); 4. Willowmore United (25); 5. Swings (22); 6. Adias (20); 7. Dysselsdorp Rangers (15); 8. Spring Roses (12); 9. Ladismith (10); 10. DKD Eagles (4).

In ’n Superliga B-wedstryd van die SWDRVU, het Collegians verlede Saterdag teen Uniondale op die Bridgton Sportgronde met ’n telling van 12–17 verloor. Rustyd het Uniondale met 17–0 voorgeloop.

Die wedstryd is in ’n goeie gees gespeel, maar die aantal geelkaarte het ’n swak smaak in die toeskouers se monde gelaat. Sewe geelkaarte is vir Uniondale uitgereik en twee vir Collegians.

Die puntemakers vir Collegians was Jandré Murphy en Marlin Jaars, elk met een drie. Mercavyn le Roux het met een doelskop geslaag. Hulle volgende wed-stryd sal op 13 Julie plaasvind. (Deur Lindi Brill)

Jaco Marx wat as speler van die wedstryd gekies is na die span se wedstryd teen Zoar verlede Saterdag. Foto: Verskaf

Die voorspelers van Oudtshoorn het genadeloos met die bal gedryf. Foto: Verskaf