Oudtshoorn RFC en Harlequins bobaas op veld

Bo: Een van die spelers van die Harlequin Forces duik oor die doellyn. Die Harlequins se A-span het teen Uniondale gewen met ’n telling van 31-24. Foto: Verskaf

In die afgelope naweek se rugbywedstryde het Oudtshoorn Rugbyklub en die Harlequin Forces die liga se punteleer ge-klim deur hul onderskeie wedstryde teen Calitzdorp en Uniondale te wen.

In die uitdaagbeker teen Uniondale het al drie spanne van Harlequins skoonskip ge-maak. Die A-span het met ’n oorwinning van 31-24 van die veld afgestap terwyl die B-span se wentelling 27-25 op die telbord was. Die C-span het ’n oortuigende oorwinning van 40-15 behaal.

Die spanne van Oudtshoorn Rugbyklub het in Calitzdorp teen die Klippies gespeel. Die Calitzdorp Klippies het taai teenstand gebied en Oudtshoorn kon net-net met 11-10 wen na ’n halftydtelling van 5-5. Mehrten Goliath het gesorg vir die enigste drie vir Oudtshoorn, terwyl Jean Heunis twee strafskoppe deur die pale gestuur het.

Oudtshoorn se B-span kon egter nie die mas opkom nie en nadat hulle teen halftyd met 13-10 voorgeloop het, het Klippies die bordjies in die tweede helfte verhang en Oudtshoorn met 18-16 geklop.

In ’n wegwedstryd teen Zoar moes Spring Roses die knie buig met hulle 15 punte teenoor Zoar se 17.

Die Roses se volgende tuis-wedstryd is op 24 Augustus teen die Swings terwyl Oudtshoorn RFC die DKD Eagles gaan aanvat. (Deur Lindi Brill)