Oudtshoorn lewer drie SA Kampioene

Mike Lombard, Fienie Barnard, Phillo Verlaat

Mike Lombard, Fienie Barnard, Phillo Verlaat

DIE Oudtshoorn Fietsryklub spog met drie Suid-Afrikaanse fietsrykampioene ná die SA Padfietskampioenskap wat van 7 tot 12 Februarie by Wellington plaasgevind het.
Altesame elf fietsryers van die klub het deelgeneem. Oudtshoorn se fietsryers het ook verskeie top 10-posisies behaal.
Oudtshoorn se SA kampioene in hul afdelings is Fienie Barnard (padwedren), Phillo Verlaat (padwedren) en Attie Botha (padwedren sowel as tydtoets). Nog drie Oudtshoornryers, Errol Pretorius (tydtoets), Mike Lombard (padwedren) en Charlissa Schultz (padwedren) het brons medaljes ingepalm.
Te midde van sterk wind en hitte van tot 40 grade C tydens die wedrenne het Louis Visser, Jessica Gerber, Kirstin Roelofse, Jacques van Staden en Kobus Barnard ook die klub en SWD se naam hoog gehou met goeie vertonings.
Vanjaar se SA’s was die grootste nog met die meeste ryers wat al deelgeneem het. Lombard, voorsitter van die Oudtshoorn Fietsryklub, sê die klub het nie sy gelyke as Oudtshoorn se grootte in ag geneem word nie.
Lede van die klub het tydens die kampioenskap ook op beamptevlak hul bydrae gelewer.
Corné Bence, Corné Botha en Ka-ren Bence was onder andere verantwoordelik vir die toepassing van die reëls by die kampioenskap.
“Die bestuur van die Oudtshoorn Fietsryklub is besonder trots op al die fietsryers wat deelgeneem het en wens hulle sterkte toe vir die Cape Town Cycle Tour wat vroeg in Maart gehou word,” het Lombard gesê.