Bo is Yolande en Hentie de Villiers wat algeheel vyfde in die Karoo Burn-Bergfietsren tussen Calvinia en Ceres was. Foto onder is (van links) Hein Jonker, Henkie du Plessis, Hugo du Plessis en Anru de Wet wat ook aan die Karoo Burn deelgeneem het. Hooffoto: Carli Smith vir www.zcmc.co.za.
“DIT was 242 brutale kilometers,” sê Yolande de Villiers, ervare bergfietsryer van Oudtshoorn, van die Karoo Burn-bergfietsren wat sy en haar man, Henties, Saterdag voltooi het.
Die Karoo Burn begin op Calvinia en lei met die R355-roete, wat as die langste grondpad in Suid-Afrika beskryf word, deur die Tankwa Karoo tot by die Kaleo Gasteplaas naby Ceres.
Die deelnemers het om 10:00 Saterdagoggend op Calvinia weggespring en het tot 08:00 Sondag-oggend tyd gehad om die wedren te voltooi.
Behalwe dat die temperatuur by tye nie ver van 40 grade C gedraai het nie, moes die deelnemers ook sowat twee derdes van die wedren ’n sterk wind van voor trotseer.
Yolande sê Henties, wat meer bekend is as ovaalbaanrenjaer, het haar verbaas met sy uithouvermoë. “Hy is darem taamlik fiks, want hy ry gereeld saam met my fiets wanneer ek oefen.
“Hy was by tye egter gedaan en het krampe ge-kry, en wou ’n slag of wat tou opgooi weens die strawwe omstandighede. Ek het hom egter aangemoedig en is baie trots op hom dat hy uitgehou en die ren voltooi het,” vertel sy. Hulle het die Karoo Burn in 15 uur 50 min voltooi wat aan hulle die vyfde plek algeheel besorg het.
Hein Jonker, Henkie du Plessis, Anru de Wet en Hugo du Plessis het ook as span deelgeneem. Behalwe Hugo wat probleme ondervind het, het die ander drie die wedren in sowat 17 uur voltooi.
Volgens De Wet was Saterdag se Karoo Burn moordend. “Die wind van voor was by tye so sterk dat dit stofwolke opgejaag het waardeur ons moes ry. Ons het behoorlik stof gevreet!
“Ek was baie verlig toe ons Sondagoggend om 05:00 by die eindpunt aankom,” sê hy.
Jonker sê hy was omstreeks 02:00 die oggend so moeg en vaak dat hy aan die slaap geraak en tussen die bosse langs die pad ingery het. “Ons het toe maar ’n power nap langs die pad gevang.”
Nog twee ryers van Oudtshoorn, Johan Griffioen en Serfie Serfontein het die wedren voltooi.
Van die 220 fietsryers wat weggespring het, het sowat die helfte nie die wedren voltooi nie.
