Lede van die Eden Toutrek Federasie, waarvan Oudtshoorn Toutrekklub deel uitmaak, is onlangs gekies om Suid-Afrika as deel van die Gazelle toutrekspan te verteenwoordig tydens ’n internasionale klubkampioenskappe-toernooi in Nederland.
Die Internasionale Toutrek-buitetoernooi vind van 14 tot 20 Mei 2026 by die TTV VIOS Bison-klub in Beltrum, Nederland plaas.
Die kompetisie word by Sportpark De Sonders in Beltrum aangebied en die Suid-Afrikaanse spanne sal teen 172 ander internasionale toutrek- spanne van verskeie lande meeding.
Volgens die amptelike uitnodigingsbrief is die Gazelle senior nasionale dames- en manspanne genooi om aan die toernooi deel te neem. Oudtshoorniete in die damespan is Amelia Lubbe en Marinel Meyer.
Die manspan bestaan uit onder andere Lukas Lubbe, JC du Preez, Aidan Vorster en Francois Naude.
Die Suid-Afrikaanse span vertrek op 12 Mei en sal tot 20 Mei in Nederland wees.
Plaaslike ondersteuners het reeds hul trots uitgespreek oor die prestasie en sê dit is ’n groot eer vir Oudtshoorn se toutrekgemeenskap om internasionaal verteenwoordig te word.
Die uitnodiging word beskou as nóg ’n bewys van die hoë standaard van toutrek in die Klein Karoo en die harde werk wat plaaslike atlete en afrigters insit. (ANGELIQUE ERASMUS)
Oudtshoon toutrekkers na Nederland
Foto verskaf