
Rugbyondersteuners is Saterdag op Bridgton se tuisveld bederf met opwindende aksie toe Bridgton kragte gemeet het teen Evergreens RFC in ’n dag vol intense wedstryde. Die atmosfeer was elektries, met ondersteuners wat hul spanne luidkeels aangemoedig het.
Bridgton het die dag op ’n hoë noot afgeskop toe hul C-span ’n oortuigende oorwinning van 33-19 behaal het. Die span het van vroeg af beheer geneem van die wedstryd en met goeie spanwerk en dissipline hul teenstanders onder druk geplaas. Hul aanvallende spel en soliede verdediging het gesorg vir ’n welverdiende sege.
Die B-span het voortgebou met hierdie momentum en ook ’n indrukwekkende vertoning gelewer. Met ’n eindtelling van 37-20 het hulle hul oorheersing duidelik gemaak. Die spelers het met selfvertroue gespeel en goeie samewerking tussen die agterlyn en voorspelers het ’n groot rol in hul sukses gespeel.
Alle oë was egter op die A-spanwedstryd, waar ’n naelbytstryd ontvou het. Bridgton het sterk begin en vroeg punte aangeteken, wat hoop geskep het vir ’n skoonskip van oorwinnings. Hul tempo en intensiteit het Evergreens aanvanklik onder druk geplaas.
Soos die wedstryd gevorder het, het Evergreens egter teruggeveg en geleidelik beheer begin oorneem. Bridgton kon ongelukkig nie hul vroeë voorsprong behou nie, en klein foute het hulle duur te staan gekom. Die besoekers het elke geleentheid benut en uiteindelik met ’n noue oorwinning van 32-30 weggestap.
Ten spyte van die A-span se nederlaag, kan Bridgton trots wees op hul algehele vertoning. (GRANWILLE GOLIATH)