Jong tennisspelers beïndruk op Eden Grand Prix – George

Van links: Rudolf Smith en Tameré Stewart. Foto’s verskaf.

Die 10-jarige Rudolf Smith het groot opslae gemaak tydens die TSA Eden Technifibre Grand Prix wat van 30 April tot 3 Mei plaasgevind het, waar hy in die o. 12 Gold seunsafdeling meegeding het. Ten spyte van sy jong ouderdom het Rudolf teen ouer teenstanders te staan gekom en met selfvertroue en vaardigheid uitgeblink.

Hy het die toernooi op ’n indrukwekkende wyse begin met ’n oortuigende oorwinning van 6-1, 6-0 in sy eerste rondte. Wat sy prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy kort ná hierdie wedstryd na die rugbyveld gehaas het, waar hy ook sy merk gemaak het.

Rudolf is as man van die wedstryd aangewys nadat hy twee drieë gedruk het – ’n bewys van sy uitsonderlike veelsydigheid as jong sportman.

In die tweede rondte het hy sy goeie vorm voortgesit en weer eens gewys waarom hy ’n opkomende ster is, met ’n sterk oorwinning van 6-0, 6-2. Sy selfvertroue en spelbeheer het deurgaans uitgestaan.

Rudolf het uiteindelik die finaal oorheers en die titel ingepalm met ’n indrukwekkende oorwinning van 6-2, 6-0. Sy prestasie op die baan beklemtoon nie net sy tegniese vaardighede nie, maar ook sy fokus en deursettingsvermoë.

Hy word afgerig deur Johann Koch van die JK Tennis Akademie, wat ’n belangrike rol speel in sy ontwikkeling. Met hierdie prestasie het Rudolf Smith beslis gewys dat hy ’n naam is om dop te hou in die toekoms.

Tameré Stewart, ’n leerder in graad 10 van Langenhoven Gimnasium, het die afgelope naweek uitstekend presteer deur as wenner van die Eden Technifibre Junior Grand Prix Tennistoernooi in George uit die stryd te tree. Sy het in die meisies o. 16-afdeling deelgeneem en deurgaans indrukwekkende tennis gespeel.

Met haar sterk fokus, tegniese vaardigheid en vasberadenheid het Tameré haar teenstanders oortuig en uiteindelik die titel ingepalm. Hierdie prestasie is ’n bewys van haar harde werk en toewyding aan die sport. Haar oorwinning plaas haar onder die streek se belowendste jong tennisspelers. (GRANWILLE GOLIATH)