Opgedra aan Nico

Nico du Bois in 2012.

Nico du Bois in 2012.

DIE Oudtshoorn Perde-uithouritte wat op Vrydag en Saterdag, 15 en 16 September, by die Berluda Gastehuis buite Oudtshoorn plaasvind, word vanjaar opgedra aan die groot sport- en perdeliefhebber Nico du Bois.

Du Bois, wat verlede weel in ’n ongeluk buite Oudtshoorn gesterf het, was sedert dié uithouritte die eerste keer in 2012 gehou is, die een wat met sy kenmerkende geesdrif sy mede-organiseerders, die borge, die media en deelnemers geïnspireer het.

Die hoofrit van die naweek, die Garden Route 80 km Challenge, spog vanjaar met ’n baie goeie prysgeld van R10000. Vir dié rit, wat Saterdag om 06:00 begin, word die speelveld gelyk gemaak word deurdat liggewigruiters met 6% gepenaliseer word en swaargewigruiters ’n 6%-surplus ontvang.

Die byeenkoms begin Vrydagmiddag om 14:00 met ’n 40 km-uithourit en veeartsondersoeke vanaf 16:00 vir Saterdag se deelnemers.

Vrydagaand om 19:00 is daar ’n ritbespreking vir die ruiters en ’n ete vir deelnemers en borge.
Saterdag om 04:00 spring die ruiters vir die 120 km-rit weg, om 06:00 vir die 80 km-rit en om 07:00 vir die 40 km-rit.

Kategorieë wat beoordeel word, is dagruiter ­­(40km), kinderruiters (vergesel van sr ruiter), ju-nior ruiter (o.18), liggewig (73 kg of ligter), standaardgewig (74 – 94 kg) en swaargewig (95 kg+)

Die prysuitdeling is Saterdag om 15:00 met gelukkige trekkings ter waarde van R50000.

• Sedert die eerste Oudtshoorn Uithouritte in 2012 het die organiseerders Helen Bellinganhof, Gotlandhuis, Tuishuis, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, Eljada-Kairos Skool, die Vaardigheids­skool en Huis Triomf betrek en ont­haal. Dit gaan vanjaar weer die geval wees.