Nuwe hoofstuk vir KKAF met aanstelling van Corné Botha

Foto: Hans van der Veen

Die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) het ’n nuwe era vir plaaslike atletiek aangekondig met die aanstelling van Corné Botha van Jakhals Events as die organisasie se nuwe operasionele bestuurder. Botha het op 1 Mei 2026 amptelik die leisels oorgeneem van die bekende sportadministrateur Dave van der Walt, wat ná jare van toegewyde diens aftree.

Van der Walt word wyd beskou as een van die dryfkragte agter die sukses van die Eden Straatmylreeks. Sy betrokkenheid by KKAF dateer terug tot 2009 toe die organisasie sy eerste tree gegee het met die destydse Yellow Pages Vakansie-Atletiek en Klein Karoo Straatmyl.

Onder sy leiding het die reeks gegroei van ’n klein gemeenskapsinisiatief tot een van Suid-Afrika se bekendste straatmylreekse wat atlete van regoor die land lok. Buiten die logistieke en administratiewe bestuur van geleenthede, het Van der Walt ook ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van jong sportlui en administrateurs in die Klein Karoo.

KKAF-voorsitter Hans van der Veen het hulde gebring aan Van der Walt se bydrae.

“Dave was die ruggraat van ons werksaamhede vir meer as ’n dekade. Hy het nie net suksesvolle geleenthede bestuur nie, maar ’n kultuur van dissipline, uitnemendheid en gemeenskapstrots geskep wat nog lank sal voortleef,” het Van der Veen gesê.

Botha en sy maatskappy, Jakhals Events, is reeds langer as tien jaar by die Eden Straatmylreeks betrokke as diensverskaffers. In sy nuwe rol sal hy verantwoordelik wees vir die operasionele bestuur van KKAF se groot projekte, insluitend die Eden Straatmylreeks en die Klein Karoo Sake-Aflos.

“Dit is ’n groot eer om hierdie rol te aanvaar. Dave laat groot skoene om vol te staan, maar ek sien daarna uit om op sy nalatenskap voort te bou en die straatmylreeks verder te laat groei,” het Botha gesê.

Die Eden Straatmylreeks word jaarliks in Oudtshoorn, George en Hartenbos aangebied en bly een van die Klein Karoo se gewildste sportgeleenthede.