Lazers en Rotweiellers pak mekaar in finale van die domino’s Summer Cup

Foto: Granwille Goliath

Ten spyte van uitdagende weersomstandighede het domino-spelers en ondersteuners Sondag in groot getalle opgedaag vir die halfeindstryde van die gewilde Summer Cup-kompetisie. Die dag het opwindende wedstryde en groot spanning opgelewer, met twee spanne wat nou gereed maak om vir die gesogte beker mee te ding.

In die eerste halfeindstryd het Lazers Domino-klub teen Challengers te staan gekom. Lazers het vroeg beheer van die wedstryd geneem en die eerste helfte met ’n voorsprong van 22 punte afgesluit. Dit het gelyk asof die wedstryd reeds beslis was, maar Challengers het ander planne gehad. Met indrukwekkende veggees en deursettingsvermoë het hulle stadig maar seker teruggeveg en op ’n stadium selfs die voortou geneem.

Die wedstryd het ondersteuners op die punte van hulle stoele gehad terwyl albei spanne alles gegee het. Uiteindelik het Lazers egter hul kalmte behou en die wedstryd gewen om hul plek in die eindstryd te bespreek.

In die tweede halfeindstryd het Mighty Warriors teen Rottweiellers kragte gemeet. Mighty Warriors het die eerste voorgeloop met 11 punte maar kon ongelukkig nie momentum opbou nie en het vroeg begin vasval onder die druk van hul teenstanders. Rottweiellers het die geleentheid benut en met sterk spel daarin geslaag om die wedstryd te wen en hul plek in die eindstryd te verseker. Rotweiellers het die agterstand ingespeel.

Daar gaan ook megeding word vir 3rde en 4rde plek waar Mighty Warriors en Challengers teen mekaar te staan gaan kom. Albei spanne het hierdie Summer Cup goeie domino’s gespeel en baie van die topspanne gewen het.

Nou is alle oë op Sondag se groot eindstryd tussen Lazers en Rottweiellers. Die groot vraag bly: Wie gaan vanjaar met die Summer Cup-beker wegstap?

Lazers sal graag nog ’n trofee by hul naam wil voeg nadat hulle verlede jaar die ligabeker gewen het. Rottweiellers, aan die ander kant, sal honger wees om hul eerste groot beker te wen en geskiedenis te maak. (GRANWILLE GOLIATH)